Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hess-saak: Man wil weet hoe hy met moord verbind word

Die eerste beskuldigde in die moordsaak van Jesse Hess en haar stiefoupa Chris Lategan het die hof Woensdag gevra om die staat te beveel om te sê hoe hy met die saak verbind word.

Jesse Hess. Foto: Facebook

David van Boven (31) en Tasliem Ambrose (38) het in die landdroshof in Bellville elk op twee aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede verskyn.

Hulle word daarvan aangekla dat hulle Hess en Lategan op 30 Augustus verlede jaar in hul woonstel vermoor het. Hulle is glo verwurg.

Van Boven se prokureur het dit aan die hof gestel dat die saak sedert November verlede jaar op die hofrol is en het die landdros versoek om, wanneer dit uitgestel word, die uitsteldatum as die finale datum te verklaar. Sy het ook gesê dat Van Boven voorlopig sy borgtogaansoek gaan laat vaar.

Die landdros het hierop geantwoord dat hy nie die staat kan beveel om te sê hoe hulle Van Boven met die saak verbind het nie. Daardie inligting sal in ’n borgtogaansoek uitkom en Van Boven het die reg om enige tyd om borgtog aansoek te doen.

Landdros Charles Scott het ook gesê wat strafsake betref is die tydperk wat dié saak op die hofrol is, nog betreklik kort.

“Dit is met ander woorde vir ’n strafregtelike saak nog ’n betreklike nuwe saak.”

Scott het ook gesê dit is nie ’n saak wat onnodig vertraag is nie.

Die hof het gehoor DNS-verslae is nog uitstaande, maar dat daar gevra is dat dit dringende aandag sal geniet.

Ambrose, wat aanvanklik homself wou verteenwoordig, het ook Woensdag vir regshulp aansoek gedoen.

Die hof het gehoor DNS-verslae is nog uitstaande, maar dat daar gevra is dat dit dringende aandag sal geniet.

Van Boven, ’n verlangse familielid van Hess, het nadat die hof verdaag is, met sy vinger na die ondersoekbeampte, lt.kol. Adrian Pretorius, gewys en gesê: “Djy, Pretorius.”

Netwerk24 het vroeër berig Van Boven en Ambrose het op 30 Augustus verlede jaar kort ná 12:00 by die woonstel opgedaag waar Hess-hulle gewoon het. Hulle het glo geld by Hess en Lategan gesoek.

Bronne beweer Van Boven het geweet dat Hess die oggend van haar dood R5 000 in ’n kompetisie van die radiostasie Heart 104.9 gewen het. Hulle het glo gedink dat sy reeds die geld gekry het.

Hess was tydens haar dood ’n eerstejaar-teologiestudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Van Boven was tydens Hess en Lategan se moord op parool uit. Hy het ook in November, ’n week voordat hy vir die moord op Hess en Lategan in hegtenis geneem is, na bewering ’n 16-jarige meisie in Hanover Park verkrag.

Hy is in Struisbaai in die Overberg-streek in hegtenis geneem. Hy het glo daarheen gevlug nadat sy foto in ’n plaaslike koerant verskyn het.

Van Boven verskyn Vrydag in die landdroshof in Wynberg op aanklag van verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Die Hess-saak is tot 8 April vir verdere ondersoek uitgestel.

Meer oor:  Chris Lategan  |  Tasliem Ambrose  |  David Van Boven  |  Jesse Hess  |  Bellville  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.