Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hewitt bly in tronk wyl raad parool-besluit hersien

Die veroordeelde verkragter Bob Hewitt (79) se vrou wou nie Maandag kommentaar lewer nadat haar man se parool opgeskort is nie.

Bob Hewitt. Foto: Argief

Dié oudtennisspeler en -afrigter sou hom waarskynlik oor ’n week by sy vrou, Delaille, by hul huis in Addo in die Oos-Kaap aangesluit het, sou hy op 23 September op parool vrygelaat word.

Ronald Lamola, minister van justisie, het egter Sondagmiddag aangekondig dat hy ’n hersiening van die korrektiewe-toesig-en-paroolraad se paroolbesluit gevra het. Hy het dit na die korrektiewe-toesig-en-parool-hersieningsraad verwys.

Volgens Lamola is hy bekommerd omdat die slagoffers nie deel was van die proses toe parool oorweeg is nie.

Die proses behels nou die aanstelling van ’n hersieningsraad, het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), Maandag gesê.

Ingevolge art. 76 van die Wet op Korrektiewe Dienste sal die hersieningsraad deur die nasionale raad verkies word en bestaan uit:

* ’n Regter as voorsitter;

* Die direkteur van openbare vervolgings of iemand wat deur die direkteur benoem is;

* ’n Lid van die departement van korrektiewe dienste;

* Iemand met spesialiskennis van die korrektiewe stelsel; en

* Twee verteenwoordigers van die publiek.

Nxumalo het nie op navrae gereageer oor hoe lank die proses na verwagting kan duur nie, maar Hewitt sal vir die duur van die proses in die tronk bly.

Die hersieningsraad sal die rekord van die korrektiewe toesig-en-paroolraad naspeur, waarna slagoffers na verwagting ook hul bydraes aan die raad kan lewer.

Tania Koen, prokureur vir Olivia Jasriel (voorheen bekend as Suellen Sheehan), een van Hewitt se slagoffers, sê hulle is slaggereed om vertoë teen Hewitt se parool te rig.

Koen en adv. Hannelie Bakker, wat Jasriel en ’n tweede slagoffer– wat weens ’n hofbevel nie geïdentifiseer mag word nie– gratis verteenwoordig, het verlede week aan die werk gespring toe een van hul kliënte ’n kennisgewing oor Hewitt se vrylating op parool ontvang het.

“Wat vir ons vreemd is, is hoekom slegs die een slagoffer, die een wie se identiteit ingevolge ’n hofbevel beskerm moet word, die enigste een is wat ’n kennisgewing ontvang het,” sê Koen.

Nie een van die slagoffers is in die proses geken toe parool oorweeg is nie, sê Koen.

“Hierdie proses gaan oor die slagoffers en wat die boodskap is wat aan die gemeenskap gestuur word.

Sy ouderdom is reeds ten tyde van sy vonnisoplegging in ag geneem. Wat van die slagoffers se ouderdom? Hulle was maar 12 jaar oud toe hulle verkrag is.

“Volgens navorsing is pedofiele onrehabiliteerbaar. Kyk ook wat gaan aan in ons land, waar vroue en kinders seksueel mishandel word. Dit (parool) kan eenvoudig nie geregverdig word nie.”

Hoewel Hewitt bykans 80 jaar oud is, sê Koen sy is verbaas dat sommige gemeenskapslede steeds dink sy ouderdom moet vir parooldoeleindes in ag geneem word.

“Sy ouderdom is reeds ten tyde van sy vonnisoplegging in ag geneem. Wat van die slagoffers se ouderdom? Hulle was maar 12 jaar oud toe hulle verkrag is.”

Sy het ook haar dankbaarheid teenoor Lamola se beroep vir ’n hersiening uitgespreek en sê dié optrede van die minister dui op die erns van die saak.

Ná afloop van die hersieningsproses sal die hersieningsraad die aanvanklike besluit bevestig of vervang met hul eie besluit en ’n bevel maak. Die raad moet sy besluite motiveer en aan die minister, nasionale kommissaris en die paroolraad deurgee.

* Hewitt is sedert 2016 in aanhouding nadat hy in Maart 2015 skuldig bevind is aan die verkragting van twee tienerjarige meisies wat in die 1980’s afrigting by hom ontvang het. Hy is ook skuldig bevind aan onsedelike aanranding van ’n derde meisie. Hy is effektief tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.

Meer oor:  Bob Hewitt  |  Parool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.