Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hier kom die grondgrypers

Kapenaars moet hulle staal vir grondgrype op ’n selfs groter skaal noudat die hof die metroraad verbied het om onwettige strukture tydens inperking af te breek sonder ’n hofbevel.

Inwoners van Empolweni in Makhaza, Khayelitsha, se strukture is deur Kaapstad se eenheid teen grondbesetting afgebreek nadat hulle grond onwettig beset het. Foto’s: Edrea du Toit

Die oprigting van hutte uit planke en plate op oop grond in die Kaap het in Julie en Augustus deur die spreekwoordelike dak geskiet – 59 000 strukture wat in 138 grondbesettings staan gemaak is, is in die sewe weke sedert 11 Julie afgebreek.

Dit kom neer op 8 400 strukture per week.

Die “normale” koers waarteen strukture afgebreek word, is 87 000 in ’n jaar, oftewel 1 600 per week.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in Kaapstad, sê die tussentydse interdik wat die hooggeregshof in Kaapstad toegestaan het, het ’n gulde geleentheid geskep om openbare grond te beset wat bestem is vir dienste, behuising, gemeenskapsgeriewe, skole en vervoerdienste.

Kaapstad gaan appèl aanteken.

Die hof het Dinsdag ’n tussentydse interdik aan die Menseregtekommissie (MRK) toegestaan wat die stadsraad se eenheid teen grondbesettings verbied om grondgrypers uit hul huise te sit of strukture te vernietig – bewoon of onbewoon – terwyl die staat van inperking geld. Die stadsraad moet eers ’n hofbevel bekom.

Die saak is deur die MRK en die burgerregtegroep Housing Assembly gebring nadat Bulelani Qolani op 1 Julie tydens ’n uitsetting kaal uit sy huis in Khayelit­sha gepluk is. ’n Video van die voorval het ’n storm ontketen en die stad het beweer hulle het bewyse Qolani het sy klere uitgetrek met die doel om die impak van sy uitsetting te verhoog.

Regters Shehnaz Meer en Rosheni Allie het beslis grondbesettings word gedryf deur haweloosheid, armoede en desperaatheid. “Dit is die armstes van die armste wat gedryf word om toevlug te soek in informele nedersettings en strukture oprig om skuiling te soek. Of sulke strukture volledig of onvolledig is of in die proses om gebou te word, dit bied ’n skuiling teen die elemente. Dis veral die geval in hierdie krisistydperk waarin die koronavirus getrotseer moet word. Dit is daarom gepas dat dit die howe se taak moet wees om te besluit wie van hul skuilings ontneem moet word.”

Inwoners van Empolweni in Makhaza, Khayelitsha, se strukture is deur Kaapstad se eenheid teen grondbesetting afgebreek nadat hulle grond onwettig beset het.

Die stadsraad gaan appèl aanteken teen die interdik.

Die MRK, met steun van die EFF, vra die hof om te bepaal dat teenspoliëring onregmatig verklaar word en dat die gemenereg daaroor gewysig word. Dit word in Oktober aangehoor.

Teenspoliasie is ’n regsremedie wat iemand toelaat om eiendom wat onwettig van hulle gevat is, op ’n kragdadige wyse terug te neem.

Smith sê grondgrype, wat tegelyk plaasgevind het in 27 gebiede wat vir behuisingsprojekte geoormerk is, neem ongekende afmetings aan en is “georkestreer”. “Die besettings is duidelik fyn beplan om anargie te skep en die stad te ontwrig.”

Smith vrees dat aktiviste, politici en sindikate wat agter die grondgrype sit, na aanleiding van die hofbevel hul optrede sal verskerp omdat die stadsraad se hande gedeeltelik afgekap is.

Die eenheid teen grondbesettings probeer nou om grondgrypers te keer nog voordat hulle strukture begin oprig, maar dit is baie moeilik. Hy sê die grondbesetters is “uitgeslape”. Hulle dra klaar geboude strukture na die besette grond of sit ’n matras daarop neer en bou dan ’n struktuur rondom die matras sodat dit as ’n bewoonde struktuur beskou moet word.

Dit neem volgens Smith maande en soms jare om ’n uitsettingsbevel te bekom, teen welke tyd die grond vir ontwikkeling verlore is. “Die gevolg hiervan is dat gemeenskappe bloot die reg in eie hande neem om grondgrypers af te jaag omdat daar nie onmiddellik teen hulle opgetree word nie.”

Smith sê as die MRK se saak slaag om teenspoliëring onregmatig te laat verklaar, sal dit rampspoedig wees vir grondeienaars. “Munisipaliteite en grondeienaars sal nie onbewoonde strukture kan verwyder as ’n manier om hul eiendom teen besetting te beskerm nie.”

Onwettige grondbesettings het ook in Julie in Johannesburg die hoogte ingeskiet, sê Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie. Hul beleid is om strukture te verwyder wat leeg staan en die raad sal voortgaan daarmee.

Prof. Dirk Kotze, politieke wetenskaplike aan Unisa, sê die hofuitspraak is daarop gerig om mense te beskerm wat op ’n onmenslike wyse afgesit word, soms deur private maatskappye. Tog het hy simpatie met stadsrade in gevalle waar gewetenlose mense geboue kaap en grond onwettig verkoop.

Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê grondbesetters mik om die Kaap te destabiliseer en die DA in ’n slegte lig te stel.

Prof. Elmien du Plessis, medeprofessor in regte aan die Noordwes-Universiteit, sê die hof het die regte besluit geneem om mense te beskerm wie se menseregte tydens uitsettings geskend word.

Meer oor:  Jp Smith  |  Bulelani Qolani  |  Grondbesettings  |  Mrk  |  Menseregtekommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.