Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hlaudi moet wel self opdok, sê hof
Hlaudi Motsoeneng Foto: Denvor de Wee

Die hoogste hof het gepraat, so Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, sal luister.

Só het ’n heel opgeruimde Motsoeneng Maandagaand gesê nadat die konstitusionele hof in Johannesburg die oggend beslis het dat hy wél finansieel aanspreeklik is vir die regskoste rondom sy omstrede verbod op die uitsaai van betogings.

Motsoeneng se aansoek om verlof tot appèl is met koste van die hand gewys.

Motsoeneng het hom tot die hoogste hof gewend nadat die appèlhof in Junie die arbeidshof se beslissing van 2017 gehandhaaf het.

Sy destydse verbod op die uitsaai van betogings het daartoe gelei dat agt joernaliste (die SAUK-agt) onregmatig afgedank is.

Luidens die arbeidshof se uitspraak moes die joernaliste heraangestel word en was Motsoeneng verantwoordelik vir die regskoste van die dringende aansoek. Motsoeneng wou teen dié uitspraak appelleer.

“Ek is tevrede – nie noodwendig oor die bevel nie, maar dat die saak wel deur die hoogste hof in die land aangehoor is,” het Motsoeneng Maandag gesê.

“Dit gaan nie oor waarvan ek hou of nie hou, of oor my emosies nie. Ek is verslaan in die hoogste hof, maar ek kon tot daar baklei. Nou moet ek die hof se beslissing respekteer.”

Ek is verslaan in die hoogste hof, maar ek kon tot daar baklei. Nou moet ek die hof se beslissing respekteer.

Motsoeneng het toe geskerts dat die hof dalk weer in ’n ander stadium in sy guns sal beslis.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het namens ’n volbank regters die eenparige bevel gelewer. Daar is egter nie ’n betaaldatum op die bevel aangedui nie.

Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakverbond Solidariteit, meen dié uitspraak is die “einde van die pad van ’n historiese oorwinning”.

“Hlaudi Motsoeneng moet nou in persoon die regskoste van die geding betaal. Dit is ’n klipharde boodskap vir staatsamptenare wat roekeloos moet belastingbetalers se geld omgaan. ’n Mens kan net so lank agter hofprosesse skuil,” het Hermann gesê.

Solidariteit het namens vier van die agt joernaliste opgetree.

Die totale koste van die partye word ná Maandag se uitspraak op tussen R1,6 miljoen en R1,8 miljoen beraam, sê Hermann.

“Die kostebevel in die konstitusionele hof moet nog getakseer word, waarna die finale koste gefinaliseer sal word. Ons sal dan onmiddellik begin om ons geld in te vorder of om beslag te lê op Motsoeneng se bates,” aldus Hermann.

Motsoeneng het ná die appèlhof-uitspraak in Junie aan Netwerk24 gesê hy wend hom tot die konstitusionele hof, want hy voel sy grondwetlike regte word in die laer howe geskend.

“Ek was nié betrokke by die SAUK-agt se ontslag nie. Hoe kan ek verantwoordelik gehou word as ek nie betrokke was nie?” het Motsoeneng toe gesê.

Meer oor:  Hlaudi Motsoeneng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.