Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hlaudi wil regskoste afbetaal

“Ek het nooit gesê ek gaan nie betaal nie, maar die kwessie gaan wel oor hoe ek betaal.”

So het Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, Donderdagaand aan Netwerk24 gesê.

Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK.

Motsoeneng se regspan het op 19 November vanjaar ’n versoek aan die vakbond Solidariteit gerig om die regskoste waarvoor hy aanspreeklik is in drie paaiemente af te betaal. Dit volg nadat die konstitusionele hof in Johannesburg beslis het dat hy die regskoste rondom sy omstrede verbod op die uitsaai van betogings moet betaal.

Motsoeneng se aansoek om verlof tot appèl is met koste van die hand gewys. Hy het hom tot die konstitusionele hof gewend nadat die appèlhof in Junie die arbeidshof se beslissing van 2017 gehandhaaf het.

Motsoeneng se destydse verbod op die uitsaai van betogings het daartoe gelei dat agt joernaliste (die SAUK agt) onregmatig afgedank is.

Solidariteit het die SAUK-lede in die hof verteenwoordig en aangevoer dat Motsoeneng in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die besluit om die joernaliste af te dank.

Luidens die arbeidshof se uitspraak moes die joernaliste heraangestel word en was Motsoeneng verantwoordelik vir die regskoste van die dringende aansoek.

Volgens Motsoeneng het Solidariteit wel die ontvangs van sy versoek om die bedrag in paaiemente te betaal erken, maar nooit daarop reageer nie.

“Ek dink die mense by Solidariteit lewe nog in die verlede en nie in die reënboognasie van Nelson Mandela nie. Dit gaan nie hier oor wie reg of verkeerd is of wie wit of swart is nie.

“Ek beskou my versoek as redelik en begryp nie die rede hoekom ek so stief behandel word nie. Ek het nooit gesê ek gaan nie betaal nie, maar die kwessie gaan wel oor hoe ek betaal,” het Motsoeneng gesê.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.Foto: Mary-Ann Palmer

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê dat Motsoeneng in ’n hoek gedryf is en die volle bedrag moet betaal.

“Sy prokureurs het aan Solidariteit ’n aanbod gemaak om R300 000 oor drie maande af te betaal. Die regskoste wat hy aan die partye moet betaal na die appèlhof-saak beloop reeds R1,1 miljoen.

“Ons wag nog vir die taksering van die grondwethof se koste, waarna ons sal begin om die volle bedrag te verhaal.

“As Motsoeneng nie in staat is om te betaal nie, sal daar op sy goedere beslag gelê word. Die proses nou vorentoe is taksering, verhaling en indien dit nie slaag nie – beslaglegging. Die man is vas en het nie meer beweegruimte nie.

“Motsoeneng is ’n voorbeeld vir ander amptenare om nie belastinggeld te plunder nie. Ons gaan nie toelaat dat hy goedkoop wegkom nie,” het Hermann gesê.

Meer oor:  Solidariteit  |  Hlaudi Motsoeneng  |  Dirk Hermann  |  Regskoste  |  Vakbond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.