Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hlophe ‘kon al jare gelede geskors gewees het’

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) kon al jare gelede die skorsing van regter John Hlophe, regterpresident van die Wes-Kaap, hangende die proses om hom te verwyder by pres. Cyril Ramaphosa aanbeveel het.

Só het die grondwetkenner prof. Pierre de Vos, asook prof. Stephan Tuson van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se regskliniek Maandag gesê.

John Hlophe

Volgens die regskenners hoef die RDK dus nie te gewag het vir die verslag van die regterlike tribunaal, wat nagenoeg 13 jaar geneem het nie.

Die tribunaal het onder meer bevind dat Hlophe skuldig is aan “growwe wangedrag” nadat hy na bewering twee regters van die konstitusionele hof, regters Bess Nkabinde en Chris Jafta, onregmatig probeer beïnvloed het om sake in die guns van oudpres. Jacob Zuma te swaai.

Die klagte waaruit die ondersoek spruit, is reeds in 2008 deur ’n volbank regters van die konstitusionele hof ingedien.

Oproepe het Sondag uit verskeie oorde opgeklink dat Hlophe in die pad gesteek moet word.

Tuson benadruk dat die president Hlophe, ingevolge die Grondwet, nie sonder die RDK se aanbeveling hangende die proses om hom te verwyder mag skors nie.

Die grondwetkenner Pierre de Vos. Foto: Twitter/Pierre de Vos

Volgens De Vos het die proses waarna verwys word in der waarheid reeds jare gelede begin toe die klagte destyds deur die volbank regters ingedien is.

“Dus kon die RDK, volgens my interpretasie, reeds vroeër ’n skorsing aanbeveel het,” het De Vos gesê.

Sello Chiloane, woordvoerder van die RDK, het nie Maandag op navrae gereageer oor hoekom die RDK nie reeds vroeër ’n aanbeveling oor Hlope se skorsing gemaak het nie.

Hy het wel Sondag aan Netwerk24 gesê dat die kwessie oorweeg sal word wanneer hoofregter Mogoeng Mogoeng, voorsitter van die RDK, ’n vergadering belê om die verslag te bespreek.

Volgens De Vos baan die verslag wel die weg daarvoor dat die Nasionale Vergadering (NV) Hlophe later in ’n staat van beskuldiging kan plaas.

Hierin sal die RDK ook ’n sentrale rol speel omdat hy eers die verslag van die tribunaal, sowel as insette van Hlophe en ander partye, moet oorweeg voordat hy besluit of hy die verslag onderskryf.

“Dit is moeilik om te sê hoe lank die proses sal neem, maar in die verlede was daar met soortgelyke prosesse vertragings,” aldus De Vos.

Indien die verslag onderskryf word, het De Vos gesê, sal die NV Hlophe in ’n staat van beskuldiging kan plaas, en indien minstens twee derdes ten gunste van ’n mosie stem om hom te verwyder, sal hy sy amp kwyt wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.