’n Adjunkdirekteur in die kantoor van die Vrystaatse premier bly vir eers agter tralies nadat sy in hegtenis geneem is omdat sy na bewering ’n hofbeampte probeer omkoop het om ’n J1-vorm te bekom.

Die beweerde omkoopgeld wat Abigail Nakedi, ’n adjunkdirekteur in die kantoor van die Vrystaatse premier, glo aan ’n lokvink betaal het. Foto: Verskaf
Abigail Nakedi (39), ’n adjunkdirekteur in die kantoor van Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en die voormalige speaker van die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad), het Maandag op aanklagte van bedrog en korrupsie in die landdroshof op Bethlehem verskyn.
Haar verhoor is tot volgende Dinsdag uitgestel en sy bly tot dan in aanhouding.
Kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, sê die Valke se ondersoekeenheid na ernstige korrupsie het Nakedi verlede Vrydag in hegtenis geneem nadat sy na bewering ’n beampte van die Bethlehem-landdroshof probeer oorreed het om ’n J1-vorm (’n vrylatingsmagtiging wat ’n gevangene benodig om vrygelaat te word) aan haar te verkoop.
Sy het na bewering R30 000 vir die vorm betaal en wou dit glo gebruik om ’n man uit die Goedemoed-gevangenis in Aliwal-Noord vrygelaat te kry.
Die hofbeampte het saamgespeel en die Valke geskakel, waarna ’n lokval glo vir haar gestel is. Sy is in hegtenis geneem nadat sy na bewering die geld aan ’n lokvink oorhandig het.
Nyakane kon nie Woensdag die naam van die gevangene verstrek wat sy glo uit die tronk wou kry nie, maar sê die man is in 2014 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte wat met transitorooftogte verband hou.
Die Valke het beslag gelê op Nakedi se voertuig, selfone, ’n skootrekenaar en ’n datumstempel wat sy glo gebruik het om die vorm te stempel.
Die ondersoek duur voort.