Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hoë hof onthef Joost se broers as J9-trustees

Die twis tussen die familie van die ontslape Springbok-rugbyspeler Joost van der Westhuizen en sy vervreemde vrou, Amor Vittone, het ’n nuwe kinkel bygekry toe die hooggeregshof in Bloemfontein Joost se twee broers as trustees van Joost se J9-trust onthef het.

Die aanstelling van Pieter en Gustav van der Westhuizen en Gavin Varejes van SA Rugby Legends deur die meester van die hooggeregshof is tersyde gestel.

Dié drie mans word ook in die uitspraak van regter Philip Loubser gelas om in hul persoonlike hoedanighede Vittone se regskoste te betaal.

Amor VittoneFoto: Cornél van Heerden

Regter Corné van Zyl het met sy uitspraak saamgestem.

Vittone het die geslaagde aansoek as ma van Joost se twee kinders, Kylie en Jordan, gebring. Hulle is die begunstigdes van die trust.

Sy het gesê sy is nie daarin geken toe die aanstellings gemaak is nie.

Intussen is die hofgeveg oor Joost se 2015-testament nog in die hooggeregshof in Pretoria hangend. Dié testament word deur Vittone betwis. Sy sê hul gesamentlike testament is die enigste een wat geld.

Die meester het die broers en Varejes op grond van Joost se 2015-testament aangestel.

Vittone het in haar aansoek gevra dat ’n onafhanklike prokureur as trustee van die J9-trust aangestel word.

Regter Loubser het in sy uitspraak gesê haar regsverteenwoordiger het dít in sy betoog nie verder gevat nie, waarskynlik omdat daar nie nou só ’n aanstelling gemaak sal word terwyl die aansoek oor die geldigheid van die testament steeds hangende is nie.

Pieter van der WesthuizenFoto: Cornél van Heerden

Hy sê die meester het nie die regte besluit geneem toe hy die aanstellingsbriewe van die broers en Varejes in 2017 uitgereik het nie.

Hy was daarvan bewus dat Vittone toe reeds ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het om ’n onafhanklike prokureur as trustee te laat aanstel.

Toe het die meester gesê hy sal hom by die beslissing van die hof berus. Terwyl die dringende aansoek nog hangende was, het hy die broers en Varejes aangestel.

Die trust besit twee meenthuise in Fourways, Johannesburg, wat verhuur word. Uit dié huurgeld word maandeliks vir die twee kinders ’n toelae betaal.

Ulrich Roux, die opdraggewende prokureur van die Van der Westhuizen-broers en Varejes, het Donderdag gesê hy sal eers van sy kliënte opdrag moet kry of hulle gaan appelleer.

Nadat uitsluitsel oor die testamente gegee is, kan hulle weer aansoek doen om as trustees aangestel te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.