Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hoenderboer, pa 2 500 jaar opgelê

’n Eens welgestelde hoenderboer van Bloemfontein en sy pa is in die Vrystaatse hooggeregshof vonnisse van altesaam meer as 2 500 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle Jan Taks uit R60,3 miljoen bedrieg het.

Norman (links) en Marius Delport Dinsdag in die hof. Skuins agter Marius sit sy ma, Johanna, met ’n geboë hoof. Foto: Mlungisi Louw
Dit is in geldwaarde die grootste BTW-bedrogsaak wat tot nou toe in die Vrystaat en Noord-Kaap voor die hof gebring is.

Marius Delport (39), wat voorheen in die spoglandgoed Woodland Hills by Bloemfontein gewoon het, is op 136 aanklagte van BTW-bedrog tot altesaam 1 880 jaar tronkstraf gevonnis.

Waarnemende regter Henriëtte Murray het beveel dat hy sy verskillende vonnisse só samelopend uitdien, dat hy effektief vir 15 jaar tronk toe gestuur word.

Sy pa, Norman (68), ’n oudpolisieman wat ook in Woodland Hills in een van sy seun se drie huise gewoon het, is op 136 alternatiewe aanklagte tot altesaam 680 jaar tronkstraf gevonnis.

Dié vonnisse van vyf jaar elk op elke aanklag word samelopend uitgedien sodat hy effektief tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is.

Dié vyf jaar is in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort. Hy hoef dus nie tronk toe te gaan nie.

Murray het gesê pleks dat Marius verantwoordelikheid vir sy optrede aanvaar, probeer hy die skuld op die skouers van ander plaas.

As hy nie sê hy is deur ’n eertydse vertroueling gemanipuleer nie, is dit die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se ondersoek wat die skuld kry.

Hy het Dinsdag steeds volgehou hy is nie op al die aanklagte skuldig nie en het geen berou getoon nie.

Johanna Delport Dinsdag in die hofsaal nadat haar man, Norman, en seun, Marius, gevonnis is. Sy was ook aanvanklik aangekla, maar die aanklagte teen haar is laat vaar.Foto: MLUNGISI LOUW|
Marius Delport (middel) praat Dinsdag met adv. Wellington Sampisi, staatsaanklaer, in die Vrystaatse hooggeregshof. Links sit sy pa, Norman Delport. Foto: MLUNGISI LOUW
Sy het gesê Marius het baie tyd gehad om te besin en die bedrog te staak. Die bedrog met valse BTW-eise is van 2009 tot 2015 gepleeg. Oor Norman het sy gesê hy het egte berou getoon. Sy aandeel in die misdaad is eerder weens nalatigheid as wat hy die opset gehad het.

Marius het aansoek gedoen om verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Hy het ook aansoek gedoen om op borgtog uitgelaat te word. Uitspraak daaroor sal Woensdag gelewer word.

Adv. Wellington Sampisi het aangekla. Dawie Reyneke het vir Norman Delport opgetree. Spesialisondersoekers van die SAID se strafregtelike ondersoekeenheid het die BTW-bedrog namens die SAID ondersoek. Kapt. Pierre du Toit is die polisie se ondersoekbeampte.

Meer oor:  Marius Delport  |  Bloemfontein  |  Bedrog  |  Btw  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.