Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof beslis oor bouery op kerk se erf: ‘Breek dit af!

Die jare lange twis tussen ’n egpaar van Bloemfontein en hul buurman, die kerk langsaan, omdat hul motorhuis op ’n deel van die kerk se erf gebou is, is in die hooggeregshof besleg.

Noudat hulle die motorhuis moet afbreek, blyk dit dat ook een van die slaapkamers in die huis van Jacob en Sarah Motthamme se huis in Waaihoekstraat 42, Heidedal, in die slag gaan bly. Verder kan dit ook die hele dakstruktuur raak.

Waarnemende regter Henriëtte Murray het Donderdag gelas dat hulle binne 90 dae dié deel wat hul erf se grens oorskry, moet afbreek.

Die motorhuis van Waaihoekstraat 42 in Heidedal wat nou binne 90 dae afgebreek moet word. Regs van die motorhuis is die Bet-El Faith Mission se kerkgebou. Foto: Mlungisi Louw

Indien hulle dit nie doen nie, is die Beth-El Faith Mission van langsaan in Waaihoekstraat 44 gemagtig om ’n kontrakteur aan te stel om dit te doen.

En die egpaar sal daarvoor moet betaal, het Murray beveel. Die egpaar moet ook die gemeente se regskoste betaal.

Amos Goliath, ’n afgetrede leraar en biskop van die kerk, sê in ’n hofverklaring die egpaar het in 1998 die heining van hul erf verskuif en toe die grens van die kerk oorskry.

In 2007 het ’n motor in hul huis vasgery en dit beskadig. Toe hulle herstelwerk gedoen het, het hulle sommer uitbreiding ook gedoen en ’n motorhuis op die kant naaste aan die kerk gebou.

In dieselfde tyd het ’n ander buurman, Clayton Beans, ook ’n struktuur opgerig wat die grens van die kerk se erf oorskry het.

Goliath sê hulle het die grens met sowat 4,6 m oorskry en dus sowat 105 vierkante meter van die kerk se erf gebruik.

Beans het op die kerk se versoek die struktuur afgebreek. Die Motthammes het halsstarrig geweier. Hulle het eerder aangebied om dié deel van die kerk se erf te koop.

'n Strafregtelike klag en ook ’n kennisgewing van die Mangaung-metro het nie gehelp nie.

Die gemeente beplan om ’n nuwe kerk en parkeerterrein te bou. Dit word nou deur die oorskryding van sy erfgrense in die wiele gery, sê Goliath.

Uit ’n brief van die metro blyk dit dat die egpaar nie net sonder goedgekeurde bouplanne aangebou het nie, maar hulle het ook oor ’n 3,15 m strook grond waarop ’n munisipale serwituut is, gebou.

Adv. Stiaan Janse van Rensburg, in opdrag van Carl van Rensburg van Rosendorff Reitz Barry-prokureurs, het vir die kerk opgetree. Adv. Jacyn Mitchley het in opdrag van Matsepes-prokureurs vir die Motthamme-egpaar opgetree.

Meer oor:  Heidedal  |  Bloemfontein  |  Kerk  |  Egpaar  |  Gebou  |  Twis  |  Buurman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.