Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof beslis Zephany mag regte naam bekend maak

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag beslis Zephany Nurse (22), wat as baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer is, se identiteit mag bekend gemaak word.

Nurse se regte naam is Miche Solomon. 

Sy het in ’n beëdigde verklaring aangevoer sy het vier jaar gehad om te verwerk wat met haar gebeur het en die interdik wat regter Eberhard Bertelsmann destyds toegestaan het om haar ware identiteit te beskerm moet opgehef word.

zephany
Morné Nurse het in 'n stadium 'n foto van sy dogter Zephany as sy profielfoto op Facebook gebruik.

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdagoggend beslis die beperking wat verband hou met die publikasie van Nurse se identiteit in die bevele van die hof gedateer 21 April 2015 en 11 Julie 2017 word beëindig.

Solomon se biologiese ouers het haar in 2015 op 17-jarige ouderdom gevind.

Morné Nurse, Solomon se biologiese pa, het lt.kol Mike Barkhuizen van die Valke destyds gebel en vir hom vertel sy dogter en ’n meisie by haar skool lyk baie na mekaar.

zephany
Morné Nurse het in 2017 hierdie foto van sy twee dogters op sy Facebookblad gedeel.

Barkhuizen het met ’n “diskrete ondersoek” begin, waarin hy verklarings onder meer by die skool, hospitale en die departement van binnelandse sake verkry het.

Lees meer: Hy kry Zephany ná 5 jaar se soek

Hy het daarna ’n maand later met Solomon en haar grootmaakouers ontmoet, waarna hy Solomon toestemming vir haar DNS gevra het. Sy het ingestem.

Barkhuizen het destyds gesê die uitslag van die DNS-toetse was vir hom blote formaliteit, want die oomblik toe hy Solomon gesien het, het hy geweet sy is Zephany Nurse wat in 1997 as baba uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer is.

Solomon se grootmaakma dien tronkstraf uit, nadat sy in Augustus 2016 tot 10 jaar gevonnis is vir die ontvoering.

Haar biologiese ma, Celeste Nurse, het destyds tydens die hofsaak gesê sy was op sterk medikasie die dag toe Solomon gesteel is.

“Zephany het gehuil en ’n vrou wat soos ’n verpleegster gelyk het, het gevra of sy haar kan optel,” het Celeste destyds getuig.

Celeste was deur die slaap en het eers later die dag, toe ’n ander verpleegster haar wakker gemaak het om te hoor waar haar baba is, besef haar baba is gesteel.

Zephany Nurse as baba by haar biologiese ma, Celeste Nurse. Foto: Verskaf

Solomon het intussen in haar beëdigde verklaring aangedui haar posisie omtrent haar ontvoering, is “fundamenteel anders as toe die bevel toegestaan is” en sy het vrede gemaak met haar “nuwe werklikheid”.

Volgens haar is dit moontlik gemaak deur die professionele hulp wat sy gekry het sedert sy van haar agtergrond bewus geword het en ook omdat die hof met die toestaan van die tussentydse interdik haar die geleentheid gegee het om die gebeure op haar eie voorwaardes te verwerk.

Soos vroeër berig het Soloman gesê indien haar interdik opgehef word, sal dit haar die geleentheid gee om haar storie te vertel, insluitende deur ’n boek wat op 23 Augustus op die rakke sal wees.

Meer oor:  Miche Solomon  |  Pretoria  |  Hooggeregshof  |  Hof  |  Zephany
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.