SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Hof: ‘Breker’ Leibrandt wou klaer ernstig beseer

Francois Leibrandt, die berugte “breker van Pretoria” is Woensdag skuldig bevind op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in een van die vele sake teen hom.

Lionelsa Lewis met ’n merk op sy wang waar hy deur Francois Leibrandt geskop is.

Landdros Adriaan Bekker het hom egter onskuldig bevind op ’n aanklag van poging tot moord.

Leibrandt het vroeër in die streekhof in Pretoria ontken dat hy op 9 Julie 2016 vir Lionel Lewis (destyds 53) met die vuiste bygedam en, toe Lewis val, hom geskop het.

Hy het beweer hy het uit selfverdediging opgetree.

Leibrandt, wat 21 jaar oud was tydens dié voorval, het ook ontken dat hy daarna met sy voertuig op Lewis se seun, Ramon Dunye, afgejaag het.

Die hof het vroeër gehoor Lewis was die eienaar van die LA Sport 4WD-mega-veldry-winkel in Wonderboompoort, Pretoria.

Daar was ook ’n restaurant op die perseel, waar Leibrandt en ’n vriend daardie dag geëet het. Ná die ete het hulle in ’n voertuig geklim, met Leibrandt agter die stuurwiel.

Lewis en Dunye het getuig Leibrandt het donuts met die voertuig op die los gruis gemaak – so erg dat die klippies gespat het.

Lewis het nader gestap en Leibrandt aangespreek. Hy het aan die hof gesê Leibrandt het uitgeklim en aan hom gesê: “F*k jou, ou man,” waarop Lewis vir Leibrandt weggestoot het.

Toe rand Leibrandt hom aan. Toe Lewis val, het Leibrandt hom teen die kop geskop.

Francois Leibrandt tydens ’n hofverskyning in ’n ander aanrandingsaak teen hom. Foto: Deaan Vivier

Lewis kon nie veel onthou nadat hy geval het nie. Hy was ná die voorval drie dae in die hospitaal. Daar was kommer oor sy toestand, veral omdat hy in 2010 ’n breinoperasie ondergaan het.

Leibrandt het in die voertuig gespring en weggejaag, waarop Dunye die perseel se hek probeer toemaak het om hom te stop. Leibrandt het hom glo probeer raakry.

Leibrandt se weergawe aan die hof was dat Lewis, wat groter en langer as hy is, die aggressor was.

Bekker het Woensdag egter bevind dat Leibrandt Lewis aangerand het en dat Leibrandt se weergawe dat hy homself net probeer verdedig het, nie geloofwaardig is nie.

Die regsvraag was of dit “gewone aanranding” was, of aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Bekker het bevind die feit dat die beskuldigde na Lewis se kop, wat ’n baie brose deel van die liggaam is, geskop het terwyl hy op die grond lê, dui op aanranding met die doel om Lewis ernstig te beseer.

Bekker het hom onskuldig bevind op die aanklag van poging tot moord. “Uit die feite voor die hof kan ek nie bevind die enigste redelike afleiding is dat die beskuldigde die klaer (Dunye) wou doodry nie.”

Leibrandt sal later die maand gevonnis word.

* Hoewel Leibrandt destyds in dié saak op waarskuwing vrygelaat is, is hy in aanhouding nadat hy in ’n ander aanrandingsaak borgtog geweier is.

Meer oor:  Lionel Lewis  |  Francois Leibrandt  |  Pretoria  |  Beseer  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.