Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof dwing VS-regering om welsynsorganisasies te betaal

Die Vrystaatse LUR vir maatskaplike ontwikkeling en sy departementshoof is in die Vrystaatse hooggeregshof beveel om meer as R120 miljoen aan welsynsorganisasies in die provinsie te betaal.

Dit volg nadat hul departement vir jare nie sy plig teenoor kwesbare mense in die Vrystaat behoorlik nagekom het nie.

Dié uitspraak van regter Johann Daffue het ’n hofstryd wat oor 17 jaar gestrek het tussen die welsynsorganisasies in die Vrystaat en die provinsiale regering oor die tekorte in subsidies wat aan die organisasies betaal moet word, op die spits gedryf.

Daffue het Donderdag in sy uitspraak gesê die LUR en sy departementshoof het hul grondwetlike pligte teenoor die armstes van die armes vir jare agterweë gelaat terwyl hulle blykbaar op die nasionale departement gewag het om met ’n nuwe beleid van subsidiëring na vore te kom.

Intussen het baie kwesbare kinders en bejaardes onder die welsynsorganisasies se sorg nie die nodige voordele gekry nie.

Hy het gelas die LUR en sy departementshoof moet aan Engo R60 696 176, Engo se subkomitee vir kinder- en jeugsentrums R50 239 097 en aan Nawongo R9 298 636 betaal.

Ds. Willem Botha, voorsitter van Nawongo, het ná dié uitspraak gesê die uitgerekte hofstryd het nou tot ’n punt gekom.

“Nou is daar duidelikheid. Hulle het nog altyd stofwolke opgeskop om verskonings te kry om nie te betaal nie. Daar is nou ’n riglyn geskep oor wat van die staat verwag kan word. Nou moet hulle betaal, anders bou hulle weer skuld op.”

Ek het geen twyfel dat die respondent (die provinsiale departement) geen voorneme gehad het om aan die 2014-beleid te voldoen nie, maar eerder besluit het om na ander weë te soek om daarvan te ontsnap.

Ná jare se litigasie tussen dié partye het die Vrystaatse hooggeregshof in 2014 ’n uitspraak gelewer waarvolgens die provinsie die welsynsorganisasies sou subsidieer. Dié beleid is nooit in werking gestel nie, waarop die organisasies hulle weer tot die hof gewend het.

Daffue het gesê dit is nie goed genoeg van die departement van maatskaplike ontwikkeling om vyf jaar ná die 2014-uitspraak met ’n nuwe beleid vorendag te kom en dan te verwag hy moet vrygestel word van wat hy belowe het om te betaal nie.

Daarby is die status van die nuwe beleid boonop ook nog onseker.

Indien daar nie geld beskikbaar was nie, of die begroting nie daarvoor voorsiening gemaak het nie, kon die departement dadelik hof toe gekom en gevra het vir ’n afwyking of aanpassing van die 2014-beleid.

“Dit het hulle nie gedoen nie, maar hulle het eerder voortgegaan om ’n ander beleid op te stel wat deur die nasionale departement gedryf is.

“Ek het geen twyfel dat die respondent (die provinsiale departement) geen voorneme gehad het om aan die 2014-beleid te voldoen nie, maar eerder besluit het om na ander weë te soek om daarvan te ontsnap.”

Die welsynsorganisasies was geregtig daarop om te verwag dat die departement sy verpligtinge teenoor die kwesbares in die samelewing sou nakom, maar is heeltyd aan ’n lyntjie gehou.

Die LUR, departementshoof, die Vrystaatse premier, die LUR vir finansies en die minister van maatskaplike ontwikkeling is ook beveel om die regskoste te betaal.

Advv. Johan du Toit SC en Jerry Merabe het in opdrag van Marjorie van Schalkwyk van Hurter Spies-prokureurs vir die welsynsorganisasies opgetree. Adv. Neil Snellenburg SC en Kgomotso Nhlapo het in opdrag van die staatsprokureur vir die staatsdepartemente opgetree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.