Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof-eis ná sy eks sy hond laat knip

’n Duur Napolitaanse mastiff is die middelpunt van ’n bitter hofgeveg tussen ’n gewese paartjie.

Priscilla of Drusilla? Die Pretoriase hooggeregshof sal uitpluis wat dié hond se naam is.

Ralph van der Merwe (50) spoeg vuur omdat sy gewese verloofde dié teef, wat volgens sy hofstukke Priscilla heet, laat steriliseer het terwyl hy in die hospitaal was.

Van der Merwe eis R1,2 miljoen van sy eks, Linda Janse van Rensburg (52), en haar seun Francois (20).

Dis hoeveel geld hy sou verdien het as hy met Priscilla kon teel, sê hy.

Maar Janse van Rensburg, ’n bekende teler van dié honderas, sê die hond se naam is Drusilla, en nie Priscilla nie. Én sy en Van der Merwe het ’n ooreenkoms gehad dat sy die hond vir hom gee “met die uitdruklike voorwaarde dat Drusilla gesteriliseer moes word”.

Ralph van der Merwe

Van der Merwe, wat ’n veiligheids- en skoonmaakdiens het, sê in hofstukke hy sou twee keer per jaar “nie minder nie” as R270 000 per werpsel kon verdien. Hy bereken dit só: nege kleintjies per werpsel van R15 000 per hondjie is R135 000.

Twee werpsels per jaar lewer dus R270 000 op.

Boonop sou Priscilla vir vier en ’n half jaar babas kon gee, wat sy verlies op R1 215 000 te staan bring, meen hy.

Hy het selfs vroeër “kampioensemen” van dié honderas van Brittanje, Turkye en Pole laat invoer om die hond daarmee te laat insemineer. Hy sê die semen is steeds in bewaring.

Van der Merwe sê Francois het Priscilla in Januarie by sy huis kom haal terwyl hy met ’n hartprobleem in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria en in ’n koma was.

Linda Janse van Rensburg

’n Veearts het toe die hond gesteriliseer.

Toe Van der Merwe in Februarie uit die hospitaal ontslaan is, het hy gesien Priscilla het hegsteke. Toe hoor hy sy is gesteriliseer.

“Priscilla is my groot baba. Sy is baie liefdevol. Selfs my toy poms boelie haar. Die honderas word gereken as een van die tien gevaarlikste soorte ter wêreld, maar ek wou met die kleintjies wys dat hulle liefdevol is.”

Terwyl hulle in ’n verhouding was, het hy en Janse van Rensburg dikwels gestry, sê hy, meestal oor diere.

Maar Janse van Rensburg beweer Van der Merwe het haar gevloek en geskel. Die laaste strooi was toe hy middel Julie verlede jaar ’n uitbarsting gehad het op ’n hondeskou wat haar in die verleentheid gestel het. Die verlowing is verbreek, “maar ons is op goeie voet uitmekaar”.

Janse van Rensburg het einde Julie Drusilla, wat toe nog ’n babahond was, vir Van der Merwe gegee “op voorwaarde dat hy haar moet regmaak”.

“Dit was nie vir hom om mee te teel nie, maar as troeteldier.”

Hy het tot dié voorwaarde ingestem, sê Janse van Rensburg. Die hond is egter steeds in haar naam geregistreer en sy het die registrasiedokumente, sê sy.

Sy sê Drusilla het in Desember op hitte geraak en ’n afspraak met die veearts vir die operasie is toe met Van der Merwe se medewete gewete gemaak vóór hy hospitaal toe is.

Janse van Rensburg sê sy het vir Van der Merwe in die hospitaal gaan kuier. Sy sê sy het self die hond by sy huis gaan haal nadat sy met een van sy personeellede gereël het om dit te doen.

Van der Merwe se prokureur, Mario Coetzee, sê egter Janse van Rensburg het ’n “wanvoorstelling” aan die kantoorpersoneellid gedoen deur te sê die hond “moet ’n inspuiting kry”.

Janse van Rensburg se prokureur, Anton van Staden, sê die gewese paartjie het vroeër om beskermingsbevele teen mekaar aansoek gedoen, maar hulle het uiteindelik buite die hof geskik dat hulle uit mekaar se pad sal bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.