Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ek het nog nooit soveel bloed gesien, sê polisieman
Boeta Smit

Hy was al op baie moordtonele, maar AO Kevin Pretorius het nog nooit ’n toneel gesien wat getuig van soveel brutale geweld en waar soveel bloed was, as die een waar Boeta Smit vermoor is nie.

So het Pretorius Donderdag in die landdroshof in Potchefstroom getuig waar Pfunzo Netshiongolwe (30) borgtog geweier is. 

Netshiongolwe staan tereg weens die moord op Smit en poging tot moord op sy vrou, Lily.

Smit (69) en Lily (66) is op 1 Desember buite en in hul huis in die stad aangeval. Lily het erge breinskade opgedoen en is sedert die aanval in ’n koma.

Landdros Magaola Foso het gesê Netshiongolwe, wat van skedule-ses-misdrywe aangekla word, kon “nie eens naastenby” buitengewone omstandighede bewys wat borgtog regverdig nie. Die feit dat hy by die Eleazer-goudmyn naby Potchefstroom werk, is op sigself ook nie buitengewone omstandighede nie, het Foso gesê.

Lily Smit

Netshiongolwe word ook van roof met verswarende omstandighede en roekelose of nalatige bestuur aangekla.

Pretorius het Donderdag getuig Lily se skedel is steeds ingeduik waar haar aanvaller haar met vermoedelik dieselfde ysterstaaf geslaan het as waarmee Smit se moordenaar hom herhaaldelik teen die kop geslaan het. Pretorius het getuig die staaf (wat op die moordtoneel gevind is), is ongeveer 1,2 m lank.

Hy het in die nadoodse ondersoek sowat 11 wonde aan Smit se kop getel. 

Pretorius het getuig Smit het vermoedelik in die vroeë oggendure van 1 Desember gaan ondersoek instel toe hy geluide by sy Isuzu-bakkie gehoor het. Bewyse op die toneel het daarop gedui dat hy by die bakkie aangerand en by die agterdeur by die huis ingesleep is. Hy is op die toneel dood. Lily is in die huis oorval.

Een van hul bure wat die geraas gehoor het, het gaan ondersoek instel en gesien hoe iemand in ’n oorpak met reflekterende strepe daarop in Smit se bakkie klim en wegry. Lede van die plaaslike buurtwag en ’n veiligheidsmaatskappy het die bakkie agternagesit. Hulle het die man in die oorpak vasgetrek nadat hy in twee ongelukke was en probeer weghardloop het. 

Pfunzo Netshiongolwe

Dié man, wat later na bewering geblyk het Netshiongolwe te wees, is ook met Lily se selfoon en die egpaar se afstandbeheer van hul hek betrap, asook ’n pakkie sigarette soos dié wat Smit gerook het.

Netshiongolwe het nogtans in sy borgtogverhoor Donderdag aangevoer hy “weet niks van die gebeure nie”. 

Die hof het ook gehoor hy is tevore in Bethal in Mpumalanga aan die aanranding van ’n polisielid skuldig bevind nadat hy “kwaad geword” het.

Netshiongolwe het volgens Pretorius ook ’n Potchefstroomse speurder aangerand nadat hy vir die aanval op die Smitte in hegtenis geneem is.

“Die beskuldigde sê hy het kwaad geword,” het Pretorius getuig.

Pfunzo Netshiongolwe Donderdag in die landdroshof in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Meer oor:  Bloed  |  Boeta Smit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.