Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof gee NDZ gelyk oor drankverbod

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het binne haar magte ingevolge die Rampbestuurswet opgetree toe sy op 27 Junie ’n drankverbod ingestel het.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Gallo Images

Regter Robert Henney van die hooggeregshof in Kaapstad het Donderdag in sy uitspraak in die saak waarin die Suid-Afrikaanse Bierbrouery (SAB) op ’n dringende grondslag die magte van Dlamini-Zuma, asook die grondwetlikheid van haar regulasies, betwis, bevind sy het die reg gehad om die verbod in te stel.

Die SAB, wat aan die internasionale bierreus Anheuser-Busch InBev (AB InBev) behoort, het die wettigheid betwis van Dlamini-Zuma se besluit om regulasie 29 van die Wet op Rampbestuur, wat die verkope van drank verbied, uit te vaardig. Hulle het egter nie geslaag in dié aansoek om die verbod opgehef te kry nie.

Die verbod is op 28 Junie bekragtig nadat pres. Cyril Ramaphosa die land weens die derde vlaag van die Covid-19-pandemie teruggeskuif het na vlak 4 van inperking.

Ramaphosa het op 27 Junie gesê dié nuwe regulasies sou twee weke geld, waarna die regering dit op 11 Julie sou herevalueer.

Luidens Henney se uitspraak moes Dlamini-Zuma in die lig van die drastiese toename in besmettings met die nuwe Delta-variant van Covid-19, vinnig besluite neem om die druk op die gesondheidsektor te verlig.

SAB het hierdie punt betwis en gesê die prosedure wat gevolg is, was onregverdig omdat hy nie vooraf geraadpleeg is nie en daar ook nie ’n openbare deelnameproses was nie.

Henney het egter op grond van bewyse deur partye in die verhoor bevind dat daar wel twee weke voor die aankondiging met verskeie rolspelers in die alkoholbedryf gesprekke gevoer is, waarin almal teen die verbod gestem het. Hierdie terugvoering is op 27 Junie deur die nasionale bevelsraad in ag geneem.

Verder het Dlamini-Zuma die reg gehad om hierdie regulasies kort vooraf in te stel.

Henney het bevind dat regulasie 29, ’n algehele verbod op die verkope, vervoer en verspreiding van alkohol, grondwetlik is en dat die minister hierdie regulasie kon uitvaardig.

Hy het te kenne gegee SAB het die aansoek om kommersiële doeleindes begin, terwyl baie mense in dié bedryf, en wat vir SAB werk, nadelig geraak word.

SAB het ook aangevoer die verbod was net tot 11 Julie en moes dus opgehef word, maar volgens Henney het Ramaphosa gesê die bevelsraad sou die situasie op 11 Julie evalueer, en nie dat die verbod dan opgehef sou word nie.

Ook is regulasie 29 nie permanente wetgewing nie en moet dit gelees word as deel van die Rampbestuurswet, wat net ’n tydelike wet is, met betrekking tot hoe lank die ramptoestand duur en of dit verleng sal word.

Henney sê ook die regulasies is nie strydig met huidige wetgewing nie, maar vul eerder wetgewing aan wat nie voorsiening maak vir regulasies soos ramptoestande nie.

Ook is die hof gebonde aan die volbankuitspraak in die Batsa-saak oor die tabakverbod, waarin bevind is Dlamini-Zuma mag regulasies instel, al is dit strydig met bepaalde wetgewing.

Hy het SAB se aansoek met koste (van drie regspraktisyns) van die hand gewys en gesê die “staat se koffers” hoef nie belas te word met ’n kostebevel in dié geval dat hulle die saak gewen het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.