Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof gee vlugtelinge in Kaapstad 7 dae om op te pak
Buitelanders wat om die Metodistekerk in Kaapstad se middestad bly. Die hooggeregshof het Maandag in ’n tussentydse interdik beveel dat dié mense ná sewe dae die metroraad se verordenings wat slaap en bly op straat verbied, sal moet nakom. Foto: Jaco Marais

Buitelanders wat dele van Groentemarkplein in Kaapstad se middestad beset, het sewe dae om die sypaadjies en strate te verlaat en die metroraad se verordenings hieroor na te kom.

Die hooggeregshof het Maandag ’n tussentydse interdik toegestaan wat die betogers rondom die Metodistekerk verbied om amptenare en wetstoepassers van die metroraad te intimideer, dreig, teister of aan te rand en enige van die metroraad se geriewe en eiendom te beskadig.

Waarnemende regter Daniel Thulare se bevel sal ná sewe dae van krag wees en die respondente en ander belanghebbers sal teen 17 Maart kan redes verskaf vir waarom die bevel nie finaal bekragtig moet word nie.

Dit sal egter nie van toepassing wees op die vlugtelinge en asielsoekers wat in die Metodistekerk self woon nie.

JP Balous, ’n leier van die buitelanders wat in die Metodistekerk en op Groentemarkplein in Kaapstad bly. Foto: Jaco Marais

JP Balous, ’n leier van die vlugtelinge, asook Papy Sukami, Sylvia Nahmana en die betogers wat dele van Langmark- en Burgstraat, die sypaadjies en dele van Groentemarkplein beset, en diegene wat hulle met hulle vereenselwig, is die respondente in die saak.

Ingevolge die tussentydse bevel mag die besetters nie mense verhoed om die gebiede wat geraak word, binne te gaan of te verlaat nie.

Die metroraad se verordenings oor strate, openbare ruimtes en geraas mag ook nie oortree word nie. Dit sluit in om te oornag op straat, vuur te maak, klere te was, oor persoonlike higiëne en ontlasting en die besetting van enige gebou of die oprigting van strukture teenaan die straat, op die sypaadjie of in openbare ruimtes.

Die balju van die hof en die polisie sal die hofbevel afdwing.

In die tydperk van sewe dae totdat die bevel van krag word, sal die metroraad geriewe beskikbaar stel vir die departement van binnelandse sake om die mense se aansoeke om asiel en vlugtelingstatus na te gaan, en ander administratiewe prosesse ingevolge die wetgewing uit te voer.

Die metroraad sal ook geriewe aanbied om na te gaan watter van die mense in nood is en watter hulp hulle benodig. Dit sluit in vir die mense om spesifieke besonderhede te verskaf vir waarom hulle vrees vir vervolging of hul veiligheid in hul land van herkoms.

Vlugtelinge hang hul wasgoed teen ’n padteken by Groentemarkplein in Kaapstad se middestad.Foto: Jaco Marais

Die kostebevel is toegestaan aan enige respondente of betrokkenes wat die hofbevel wil teenstaan.

Balous het buite die hof gesê die regter se uitspraak “is niks nuuts as jy dink aan Suid-Afrika en hoe vlugtelinge hier behandel word nie”. Hy verwag dat dit tot konflik met wetstoepassers gaan lei.

“Dit wys vir die wêreld hoe vlugtelinge gehanteer word en geen regte het nie; soos tweedeklasburgers in Suid-Afrika. Iemand kan net skuif as hulle êrens het om heen te gaan, maar die mense wat daar is, waarheen gaan hulle trek?”

Balous voer aan dat die regter xenofobiese aanvalle “steeds ontken” en dat dieselfde “ou regressiewe wette” onder apartheid op vlugtelinge afgedwing word.

Kinders lê onder stukke karton buite die Metodistekerk in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

“Suid-Afrika is veronderstel om ’n land van hervestiging te wees en maatskaplike verligting aan vlugtelinge te bied, maar hier moet jy op straat slaap en motors was vir ’n lewe.

“Die hof oorweeg nie die lot van die vroue en kinders wat daar woon nie en gee nie enigsins om nie. As jy ’n vlugteling is, is jy magteloos en ons het geen manier om ons teë te sit en nêrens om heen te gaan nie. Jy kan nie mense dwing om terug te gaan na ’n plek waar hulle jou wil doodmaak nie.”

Die departement van binnelandse sake het voorheen aan die hof bevestig dat daar sowat 500 mense en 265 kinders in en om die kerk woon, waarvan die meeste die nodige dokumentasie vir verblyf in die land het.

Vlugtelinge in die Metodistekerk in Kaapstad se middestad. Foto: Jaco Marais
Honderde buitelanders woon in en rondom die Metodistekerk in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
 

In Januarie het die metroraad in die hof benadruk dat dit nie ’n uitsetting-saak is nie en dat die buitelanders wat sedert Oktober betoog, nie haweloos is nie. Die metroraad sal ook nie noodbehuising aan dié mense kan verskaf terwyl ander inwoners op die waglys is nie. Lees meer hier.

Die groep het aanvanklik die Waldorf Arcade uit protes teen die departement beset, waarna ’n uitsettingsbevel bekom is en hulle in die Metodistekerk gaan skuil het.

Hulle eis dat hulle nie elders in die stad hervestig word nie, maar in ander lande wil gaan woon.

Die metroraad het aangevoer dat omliggende ondernemings, besoekers en toeriste gekla het oor die betogers se teenwoordigheid en die gevolge daarvan op hul ondernemings.

Meer oor:  Kaapstad  |  Groentemarkplein  |  Metodistekerk  |  Hof  |  Hofbevel  |  Asielsoekers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.