Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof gee Zondo nóg 13 maande
Zondo
Zondo

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping moet opskud met sy werk.

Só het regter Wendy Hughes Maandag in die hooggeregshof in Pretoria gesê toe sy die kommissie ’n finale bykomende 13 maande uitstel gegee het om sy ondersoek af te handel.

Dit beteken die kommissie moet sy ondersoek teen Maart 2021 afhandel.

“Die kommissie is dit aan die land verskuldig, aangesien sy werk van nasionale belang is,” het Hughes in haar uitspraak gesê.

Ondersoek kan nog 4-6 jaar sloer

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het vroeg in Februarie in ’n dringende hofaansoek om nog tien maande uitstel gevra. Inderwaarheid het hy gevra vir ’n onbepaalde verlenging, nadat hy ’n beraming gedoen het en besef het die ondersoek kan tussen vier en ses jaar duur.

Hierop het Hughes bevind dit sal nie in belang van geregtigheid wees om so lank te draal nie.

“Dit sal nie in die belang van reg en geregtigheid wees om nog en nog uitstel te gee nie. Sedert 2018 is reeds 24 maande bykomend gegee,” het Hughes gesê.

‘Opskud!’ maan hof

Buiten vir die tien maande waarvoor Zondo gevra het, het Hughes nog drie maande gegee sodat die finale verslag vir voorlegging aan die president opgestel kan word.

Sy sê dit was duidelik dat Zondo reeds met oplossings vorendag gekom het om binne die volgende 10 maande die kommissie se werk af te handel.

Die kommissie het voorgestel dat hy die president nader sodat sy oorspronklike opdrag oor wat om te ondersoek, beperk word.

Aangeleenthede wat reeds afgehandel is, kan ook verwys word na ander staatsdepartemente vir ondersoek en vervolging.

Hughes het die kommissie aangeraai om die wiel so vinnig as moontlik aan die rol te kry.

* Oudpres. Jacob Zuma het die Zondo-kommissie vroeg in 2018 aangekondig. Dit het gekom ná die uitreiking van die “staatskapingsverslag” deur adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer (OB), in Oktober 2016.

Hierna is besluit dat die kommissie sy ondersoek binne 180 dae moet afhandel. Die sperdatum is egter nie gehaal nie en hofbevele is bekom om dit eers tot 2 Oktober 2018, en daarna tot 29 Februarie vanjaar te verleng.

Zondo het in sy aansoek gesê hy het einde 2019 besef dat daar nog “groot volumes werk, verklarings en getuienis” is wat eers afgehandel moet word.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Ondersoek  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.