Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof gons oor Omotoso se uitspattige klerekas

Daar is geen gebrek aan drama in die verhoor van die flambojante pastoor Timothy Omotoso in die hooggeregshof in Port Elizabeth nie.

Sy uitspattige uitrustings staan ook nie ’n tree vir enige van dié drama agteruit nie.

Omotoso (59), ’n senior pastoor van die Jesus Dominion International Church, staan saam met Zuki­swa Sitho (28) en Lusanda Solani (36) tereg op aanklagte van seksuele aanranding, mensehandel, verkragting en rampokkery.

Die staat beweer die beskuldigdes het jong meisies oor die land heen vir seksuele voorbereiding gewerf.

Dié uitrusting van Timothy Omotoso was ’n gunsteling onder hofgangers.

Omotoso het Maandag die week in ’n dramatiese baadjie in swart en goud begin – met bypassende skoene, wat hy trots gewys het. Toe hy uit die hofselle te voorskyn kom, het ’n fluistering deur die openbare galery getrek. Sommige wou weet waar hy sy hangkas in sy tronksel wegsteek.

“Wow! Dit is nou vir jou ’n deftige uitrusting wat die man aan het,” het een hofganger gesê.

Die verwagtinge was Dinsdag hoog, maar mense het hardop begin lag toe hy sy verskyning maak in ’n broekpak in groen en goud, met wit skoene daarby.

Sosialemedia-gebruikers het sy uitrusting met dié van ’n sirkusseremoniemeester of met Michael Jackson vergelyk.

Ander wou weet hoekom hy soos ’n trompoppie lyk.

Omotoso se skoene het Maandag nes sy baadjie gelyk.

“Die oorlewende Beatles behoort hom te dagvaar oor die Sergeant Pepper’s Lonely Hearts Club Band-uniform wat hy dra,” het nog ’n kommentaar gelui.

Teen Woensdag het mense in die openbare galery weddenskappe begin aangaan oor wat hy dié dag gaan dra.

Hy het nie teleurgestel in sy wit hemp met ’n valletjieskraag onder ’n swart-en-pers baadjie nie.

“Dit lyk vir my asof hy vandag sy vrou se hemp dra,” het iemand gespot.

Daar was ander drama ook: Lidmate van sy kerk het

Maandag hardop begin skree en bid omdat Omotoso glo vanuit die beskuldigdebank die wolke beweeg en die maan laat verskyn het. Die lidmate het glo ’n engel gesien toe dit gebeur.

Dinsdagoggend was daar drama buite die hofsaal toe ’n vrouekonstabel, wat ’n lid van Omotoso se kerk is, by die hofgebou uitgeboender is.

Sy het saam met ’n vriendin – ook ’n polisielid en lidmaat – toegang tot die hofsaal probeer verkry deur hul polisie-identifikasie te toon.

Toe die ondersoekbeampte, ao. Peter Plaatjies, hulle vra om die hofsaal te verlaat, het die konstabel met Plaatjies slaags geraak.

Sy het geweier om die hofgebou te verlaat, maar is deur haar kollegas opgetel en al skoppend en skreeuend by die hof uitgeboender.

Saam met Omotoso se “trompoppie”-uitrusting Dinsdag het die kerk se trompoppies Birdstraat buite die hofgebou tot stilstand gebring met hul passies.

Hofgangers was minder beïndruk met dié nommertjie, maar dalk het hy dit Dinsdag gekoördineer met die kerk se trompoppievertoning buite die hofgebou.
Woensdag se valletjieshemp het iemand laat wonder of hy sy vrou se klere dra.

Meer oor:  Timothy Omotoso
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.