Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof hoor gru-besonderhede van Welgelegen-moord
Jamie Lee Moses word saam met drie minderjariges daarvan aangekla dat hulle Vincent Bartes (58) Sondagaand in sy huis in Welgelegen, Parow, vermoor het. Foto: Facebook

Vincent Bartes (58) se vier vermeende moordenaars het vermoedelik een van die handdoeke waarmee hulle later probeer het om sy bloed op te vee, oor sy gesig gehou voordat hulle vermoedelik kookwater oor hom uitgegooi het.

Volgens die lykskouing wat Dinsdag uitgevoer is, het Bartes versmoor.

Hy is glo ook herhaaldelik met ’n mes in sy bolyf en in sy rug gesteek. Hy het ook kopwonde gehad.

Bartes se vermeende moordenaars, die jong ontkleedanseres en ma van een, Jamie Lee Moses (21), en drie minderjarige seuns van tussen 15 en 17, het Donderdag in die landdroshof in Bellville op voorlopige aanklagte van moord, huisroof en motordiefstal verskyn.

Die staat het Donderdag gesê hy glo hulle het Bartes Sondag in sy huis in Generaal Hendrik Schoemanstraat, Welgelegen, Parow, met kookwater gegooi en daarna gesteek totdat hy dood is.

’n Bron het Maandag gesê die polisie het Sondagaand en Maandag tydens hul ondersoek oral in die moordhuis bloedbevlekte handdoeke gevind soos wat die moordenaar(s) vermoedelik bloed opgevee of probeer stop het.

“Daar is ook geld gevind wat erg met bloed bevlek was,” volgens die bron.

Bartes was glo ’n “geldskieter”.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging (DOV), sê die vier het ná die moord in Bartes se silwerkleurige Mercedes-Benz van die toneel gevlug.

Bartes se skootrekenaar en verskeie ander kleiner elektroniese toerusting is gesteel.

Vincent Bartes is Sondagaand in sy huis in Welgelegen, Parow, vermoor. Foto: Ayesha Akoodie/Facebook

Sy selfoon, wat aanvanklik nie opgespoor kon word nie, is wel Maandag in sy huis gevind.

Die viertal is Dinsdag in Rocklands deur speurders verbonde aan die Parow-polisie in hegtenis geneem.

Die polisie het na wat verneem word tussen 03:00 en 04:00 in die gebied in Rocklands, wat as “Die Hel” bekendstaan, toegeslaan.

Bartes se voertuig is Maandag verlate in dieselfde gebied gevind.

Netwerk24 het vroeër berig dat die drie minderjarige seuns Dinsdag kort nadat hulle in hegtenis geneem is, elkeen ’n bekentenis afgelê het. Moses wou glo egter nie haar samewerking gee nie.

Veiligheidswagte het Sondagaand op Bartes se lyk afgekom nadat bure vreemde geluide en ’n harde knal gehoor het wat vir hulle soos ’n motorongeluk geklink het. Die bure het ’n veiligheidsmaatskappy ontbied om ondersoek in te stel.

Sy hande en voete was vasgebind. Hy is in een van sy slaapkamers gevind.

Die knal was vermoedelik die geluid wat gehoor is toe Bartes se vermeende moordenaars met sy motor deur sy motorhuisdeur gejaag het.

Moses is na wat verneem word glo ’n ontkleedanseres en het Bartes in Cherries – voorheen Teazers, ’n ontkleedansklub in Bellville – ontmoet.

Daar is Woensdag gesê dat Moses en die minderjariges Sondagaand kort ná 21:00 by Bartes se huis in ’n taxi opgedaag het.

Bartes het volgens ’n bron glo tot omstreeks 21:00 saam met vriende na ’n sokkerwedstryd op televisie gekyk. Moses en die drie minderjariges het glo by Bartes se huis opgedaag terwyl Bartes se laaste kuiergaste sy huis verlaat het.

Die vier het Woensdag hul eerste verskyning in die hof gemaak. Die saak is egter na Donderdag oorgeplaas sodat reëlings getref kan word vir die minderjariges om by plekke van veiligheid aangehou te word.

Die saak is Donderdag tot 10 Februarie uitgestel wanneer die vier om borgtog aansoek sal kan doen.

Moses word tot dan by die Pollsmoor-gevangenis se vroue-afdeling aangehou.

Die minderjariges word by twee plekke van veiligheid aangehou.


Meer oor:  Vincent Bartes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.