Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof hoor hoe aanklaer glo omkoopgeld versteek
Een van die foto’s wat deur die polisie geneem is waar Thozama Takane, ’n staatsaanklaer van die landdroshof in Uitenhage, glo die omkoopgeld van Luvuyo Bokwe ontvang het om ’n saak teen hom terug te trek. Foto: Verskaf

Oomblikke nadat ’n aanklaer van Uitenhage in die Oos-Kaap vir korrupsie in hegtenis geneem is, het hy probeer om die omkoopgeld te versteek.

So het die handelshof in Port Elizabeth Maandag gehoor toe kapt. Natalie Connelly, ’n speurder van die Valke se eenheid teen ernstige korrupsie, getuienis gelewer het in die saak teen Thozama Takane, ’n staatsaanklaer van die landdroshof in Uitenhage.

Takane is op 23 April in die landdroshof waar hy daagliks misdadigers vervolg het, in hegtenis geneem nadat hy glo omkoopgeld aanvaar het om ’n saak teen twee beskuldigdes terug te trek.

Takane word daarvan beskuldig dat hy ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen Luvuyo Bokwe en Nxaxho Crosby in ruil vir R1 500 teruggetrek het.

Connelly, wat al 17 jaar in die polisie is, was Maandag adv. Tjaart van Zyl, staatsaanklaer, se eerste getuie in die verhoor nadat Takane skuld ontken het.

Connelly het aan die hof gesê dat Bokwe en Crosby die Uitenhage-polisie genader het nadat Takane die omkoop-aanbod aan hulle gemaak het. Hulle het toe nog nie die geld aan Takane gegee nie.

Die podium in die A-hof in die landdroshof in Uitenhage waar Thozama Takane, ’n staatsaanklaer van dié hof, na bewering die omkoopgeld versteek het. Foto: Verskaf

Nadat Connelly en sers. Trevor Shaw van die Uitenhage-polisiekantoor met Bokwe en Crosby vergader het, het hulle die direkteur van nasionale vervolgings se raad gevra. Die vervolgingsgesag het aan Connelly en Shaw skriftelike toestemming gegee om ’n lokval op te stel.

Die lokval het behels dat Bokwe vir Takane moet ontmoet en geld, wat deur die polisie verskaf is, aan hom sal gee terwyl polisielede die gebeure van ’n afstand dophou.

Connelly het Maandag aan die hof foto’s voorgehou van die sewe R200-note en een R100-noot wat die omkoopgeld van R1 500 opgemaak het.

Volgens Connelly het sy uit ’n motor foto’s geneem terwyl Bokwe die geld aan Takane op ’n sypaadjie naby aan die landdroshof in Uitenhage gegee het.

Hierna het Takane die hof ingestap en Shaw het hom agternagesit. Connelly het vir Takane sy regte in die hof voorgelees en hom in hegtenis geneem.

Die geld wat in die podium in die hof gekry is. Foto: Verskaf

Connelly sê terwyl sy na Takane se bestuurder in die hofgebou gaan soek het, het Shaw en Takane in die A-hof gewag. Met Connelly se terugkoms in die A-hof het Shaw aan haar gesê hy het gesien hoe Takane “iets” in ’n podium in die hofgebou neersit.

Shaw het sy hand in die teenwoordigheid van Connelly by die podium ingesteek en ’n hoop geld uitgehaal.

Connelly sê dié geldnote was die presiese note wat sy van die polisie se finansiële kantoor bekom het en afskrifte van gemaak het voordat dit aan Bokwe vir die lokval oorhandig is.

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.