Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Hof hoor Hofmeyr wil bloot sy naam beskerm

Wat Johan Pienaar, die sogenaamde vlagaktivis van Stellenbosch, vra is dat die sanger Steve Hofmeyr ophou om hom te teister.

Só het Tracey Lomax, Pienaar se prokureur, Maandag in die landdroshof in Stellenbosch aangevoer, waar Pienaar vir ’n beskermingsbevel teen Hofmeyr vra.

Lomax het aan die hof gesê Pienaar het regverdige kommentaar gelewer toe hy verlede jaar gedurende die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees die ou Suid-Afrikaanse vlag op ’n sypaadjie te laat lê het sodat mense daaroor kon loop. 

Pienaar het die uitstalling van die vlag as ’n protesinstallasie beskryf deur die name van mense wat die vlag volgens hom voorstaan of voorgestaan het daarop te skryf, wat insluit Hofmeyr, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, oudpres. FW de Klerk en oudpres. PW Botha.

Hofmeyr het in reaksie hierop sy aanhangers op Twitter aangemoedig om die vlag te gaan verwyder en hulle eers R1 000 en later R1 500 daarvoor aangebied.

Nadat iemand die vlag gegryp en daarmee weggehardloop het, het Pienaar die klag teen Hofmeyr ingedien.

Iemand het die dief ingehaal en die vlag teruggekry.

Pienaar het die vlag weer Maandagoggend buite die hof omhoog gehou.

johan pienaar
Johan Pienaar poseer Maandagoggend met die ou Suid-Afrikaanse vlag, met Hofmeyr en talle ander se name daarop geskryf, by die hof in Stellenbosch. Foto: Adrian de Kock
Adrian de Kock

Lomax het in die hof aangevoer Hofmeyr het nie gehou van wat Pienaar sê nie, “en het toe sy volgelinge gevra om sy eiendom te steel,” sê Lomax. 

“Hofmeyr het geweet wie die vlag gesteel het en het nie die polisie ingelig nie. Hy het die wet oortree.”

Lomax sê Hofmeyr het geweld aangehits teen Pienaar en probeer nou om die saak te verdraai deur dit te laat klink soos ’n dispuut oor vryheid van spraak.

“Dit gaan nie oor vryheid van spraak nie, dit gaan oor Pienaar se reg om sy eiendom te behou.”

Lomax sê Hofmeyr het nou nog nie om verskoning gevra vir wat hy gedoen het of sy twiets afgehaal nie. 

Steve ‘was geregtig daarop om sy naam te beskerm’

Adv. Johan Victor, wat namens Hofmeyr optree, het op sy beurt aangevoer die sanger was geregverdig in sy poging om die vlag te laat verwyder.

“Sy naam was op die vlag geskryf en Johan Pienaar, ’n selfverklaarde aktivis, het mense gevra om daaroor te loop en daarop te dans. Hofmeyr mag ten minste probeer om sy eie naam te beskerm,” het Victor in die hof aangevoer.

Hy het aangevoer Hofmeyr het ook nooit gedreig om Pienaar fisiek seer te maak nie. 

“Wat Hofmeyr gedoen het, is nie teistering nie.”

Volgens Victor was Pienaar se vlag nie ’n kunswerk nie. Victor sê die vlag is maklik vervangbaar – dit kos volgens hom net R150 en dit sal enigiemand net ’n halfuur neem om die name daarop te skryf.

"Dit is daarom nie nodig om dit met ’n interdik te beskerm nie.”

Victor sê ook Pienaar het nagelaat om te erken dat hy gereeld politici uitlok. 

“Pienaar probeer mense aspris ontstel en hy wil emosies op hol jaag,” het Victor gesê.

Hy het bygevoeg dat die saak nie in ’n siviele hof hoort nie, maar eerder deur die Menseregtekommissie hanteer kon word.

steve hofmeyr
Steve Hofmeyr kom Maandagoggend by die landdroshof in Stellenbosch aan. Foto: Adrian de Kock
Netwerk24

Victor het gesê dat Pienaar self vir Hofmeyr gedreig het op Twitter, selfs nadat ’n tydelike interdik in Maart verlede jaar aan hom toegestaan is wat Hofmeyr verhoed het om Pienaar aanlyn te teister.

Tracey Lomax, Pienaar se prokureur, het erken Pienaar het die opmerkings gemaak.

Lomax en Pienaar het die vlag oopgevou in die hof, om dit aan landdros Maya Prag te wys, en geargumenteer dat die kunswerk in geskiedkundige konteks uitgestel is.

Vroeër met die partye se aankoms by die hof het Victor aan Lomax gesê: “Hou op om ons lastig te val.”

“Ons doen niks van die aard nie,” het Lomax met ’n verbaasde uitdrukking geantwoord.

Die saak is tot 22 Julie uitgestel wanneer uitspraak na verwagting gelewer sal word.

* Die US Woordfees ontken dat Pienaar se installasie deel van verlede jaar se feesprogram was.

Meer oor:  Johan Pienaar  |  Stellenbosch  |  Steve Hofmeyr  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.