Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof: Minderjariges steeds nie beskerm ná 18

Die media het pas ‘n slag geslaan in die hooggeregshof in Pretoria toe regter Wendy Hughes bevind het die Strafproseswet belet die publikasie van minderjarige getuies en aangeklaagdes in strafsake se identiteit net totdat hulle 18 jaar oud is.

Die hofaansoek van vier organisasies dat getuies en aangeklaagdes in strafsake se identiteit vir ewig ‘n geheim moet bly en nooit deur die media of op ander maniere gepubliseer moet word nie, is deur die hof van die hand gewys.

Dit beteken dat getuies (behalwe slagoffers van seksmisdade) en aangeklaagdes in strafverrigtinge se name bekend gemaak kan word wanneer hulle 18 en dus meerderjarig word.

Hughes het gelas dat ‘n tussentydse interdik wat vroeër verleen is om Zephany Nurse se identiteit te beskerm, geldig bly totdat alle moontlike appèlle teen Huges se uitspraak vandag, afgehandel is. 

Dié hofaansoek wat deur die vier organisasies gebring is, het gegaan oor die interpretasie van art. 154(3) van die Strafproseswet. 

Dié artikel lui geen persoon sal op enige manier hoegenaamd enige inligting publiseer wat die identiteit van ’n aangeklaagde of getuie in strafverrigtinge onder die ouderdom van 18 jaar onthul of kan onthul nie. Die getuies in strafsake sluit slagoffers van misdade in.

Vier organisasies meen as die artikel behoorlik geïnterpreteer word, behels dit die voortdurende beskerming van sulke mense se identiteit, selfs nadat hulle 18 geword het. As dít nie die geval is nie, wou hulle art. 154(3) ongrondwetlik verklaar hê. Die organisasies is die Sentrum vir Kinderreg, Childline, Nimro en Media Monitoring Africa.

Hul mede-applikant staan onder die publiek bekend as Zephany Nurse. Zephany is nie haar regte naam nie. 

Die beskuldigde, wie se naam ingevolge ’n hofbevel nie genoem mag word nie om Zephany Nurse se identiteit te beskerm, het glo op 30 April 1997 Zephany uit die Groote Schuur-hospitaal gesteel en haar as haar eie grootgemaak. Foto: Leanne Stander

Die applikante het vroeër ’n tussentydse hofbevel bekom om Zephany se anonimiteit te beskerm. In Februarie 2015 is ontdek Zephany (toe 17 jaar oud) is as baba uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer. 

Die organisasies het aangevoer art. 154(3) verseker dat die kind se beste belange beskerm word deur anonimiteit as die verstekposisie in strafverrigtinge op te dwing, met die hof wat die finale sê het of dié beskerming gelig kan word.

Media24, Times Media en Independent Newspapers het die aansoek teengestaan.

Die mediagroepe voer aan die uitbreidings van die wet waarop die vier applikante aandring, sal radikaal wees. Dit sal uniek ter wêreld wees om ’n verbod te plaas op die identifisering van kinderslagoffers van misdaad.

Selfs ’n kind wat beseer is in ’n motorongeluk wat deur iemand se nalatige bestuur veroorsaak is, sal nie geïdentifiseer mag word nie. Die kind se naam sal nie genoem kan word as die kerk vir sy of haar herstel bid nie, het die mediagroepe aangevoer.

Adv. Ann Skelton, wat namens die vier applikante optree, het buite die hof gesê die applikante gaan voor Hughes aansoek doen om te mag appelleer teen ‘n sekere punt in haar uitspraak. Dít is teen Hughes se bevinding dat art. 154(3) van die Strafproses nie aangeklaagdes en getuies se anonimiteit ná die ouderdom van 18 jaar beskerm nie. Die vier organisasies wil steeds lewenslange beskerming van die identiteit hê. 

Skelton sê die applikante is wel tevrede met Hughes se bevinding dat slagoffers van misdade se name ook nie onder die ouderdom van 18 jaar gepubliseer mag word nie.

Skelton sê die betrokke artikel lui slegs dat aangeklaagdes en getuies in strafsake se identiteit beskerm moet word totdat hulle 18 jaar oud is. Dit het egter nie uitdruklik gesê die getuies sluit slagoffers van misdade in nie. Sy sê Hughes het nou spesifiek verklaar dat dié bepaling ook slagoffers insluit. 

Meer oor:  Zephany Nurse  |  Beskerm  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.