Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof nou laaste uitweg vir desperate rokers

Suid-Afrika se rokers wend hulle nou in ’n laaste desperate poging tot die land se howe in die hoop om binnekort weer wettig rookgoed te kan koop.

Een van die prominentste sake in dié verband is dié van die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita). Dié organisasie het Vrydag bekend gemaak die hooggeregshof in Pretoria het ’n datum (9 en 10 Junie) vasgestel sodat hulle op ’n dringende grondslag aangehoor kan word.

Sinenhlanhla Mnguni, president van Fita, meen studies wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, by die hof ingedien het om te staaf dat die verbod om gesondheidsredes gehandhaaf word, is nie oortuigend nie.

Daar is navorsing wat bevind het dat dit sielkundig die mees onmenslike manier is om iemand te dwing om op te hou rook.

“Van dié studies het bevind daar is nie genoeg bewyse dat rokers swaarder as nierokers getref word deur die koronavirus nie,” het Mnguni Vrydag gesê.

Die organisasie sal ook die argumente hieroor verder voer en in die hof betoog oor die onmenslike manier waarop rokers nou gedwing word om op te hou rook.

“Daar is navorsing wat bevind het dat dit sielkundig die mees onmenslike manier is om iemand te dwing om op te hou rook,” sê hy.

Fita het ook die klagtes gekry wat deur die publiek by Dlamini-Zuma ingedien is en in oorweging geneem is voor die besluit oor tabakverkope op die verskillende vlakke van inperking.

Van die 1 535 voorleggings wat ontvang is, het sowat 47% niks te doen gehad met sigaretverkope nie, sê Fita. Sowat 29% van die oorblywende voorleggings was ten gunste van die verbod, terwyl 23% rook en e-sigarette tydens die inperking gesteun het.

Fita het hom reeds vroeg in die nasionale staat van inperking gereed gemaak vir ’n hofstryd nadat die nasionale Covid-19-bevelsraad bly weier het om die verbod op die verkoop van tabakprodukte te lig.

Wanneer die hele land Maandag na vlak 3 van die inperking beweeg, sal die verbod op die verkoop van tabakprodukte steeds geld, terwyl die koop van drank toegelaat word.

Dlamini-Zuma, wat verantwoordelik is vir die regering se maatreëls om die Covid-19-pandemie te beheer, het Donderdag weer gesê tabakverkope is taboe en tabakprodukte mag net vir die uitvoermark beskikbaar gestel word.

Bheki Cele, minister van polisie, het terselfdertyd gewaarsku dat daar streng teen rokers opgetree sal word.

Intussen het nog ’n drukgroep, Smokers Unite One, die hooggeregshof in Pretoria Donderdag op ’n dringende grondslag genader om as tweede applikant by Fita se saak gevoeg te word.

Dié aansoek sou Vrydag aangehoor te word, maar teen publikasie was daar nog nie ’n antwoord van die hof nie.

Batsa het elke manier probeer om konstruktief met die regering te skakel sedert die verbod in werking getree het.

Die tabakmaatskappy British American Tobacco South Africa (Batsa) het Vrydag ook sy eie dringende hofsaak gebring teen die regering se besluit nadat hy dit vroeër laat vaar het.

Batsa word nou in sy saak gesteun deur Japan Tobacco International (JTI) asook ander groepe en organisasies wat in die waardeketting van die tabakbedryf in die land betrokke is, insluitend boere, kleinhandelaars en verbruikers, het Nellie Brand-Jonker vroeër berig.

“Batsa het elke manier probeer om konstruktief met die regering te skakel sedert die verbod in werking getree het. Hy het gedetailleerde voorleggings gedoen, onder meer aan verskillende ministers, en regstreeks aan die presidensie,” het dié organisasie in ’n verklaring gesê.

AfriForum het ook vandeesweek ’n prokureursbrief op Dlamini-Zuma beteken waarin sy tot 1 Junie kans gegee word om te reageer op die burgerregteorganisasie se vrae. Sy is in kennis gestel as die rookverbod nie opgehef word nie, sal Afriforum verdere regstappe oorweeg, het Sarel van der Walt berig.

Volgens AfriForum kom die regering se “geheimsinnigheid” in die saak neer op ’n skending van die publiek se regte. Die brief is ook aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gestuur.

Meer oor:  Rokers  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.