Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof sê NGK het gays se regte vertrap

Die NG Kerk se algemene sinode het gefouteer toe hy in 2016 ’n beslissing gemaak het dat selfdegeslaghuwelike nie in die kerk voltrek mag word nie.

Só het die hooggeregshof in Pretoria Vrydag beslis.

Die NGK het in 2016 sy besluit oor gay-huwelike deur sy algemene sinode verander, nadat hy die jaar tevore beslis het dat elke kerk self kan besluit of hulle gay-verhoudings wil erken, gay-paartjies in die huwelik wil bevestig en gay predikante wil aanstel.

Oudpredikante en lidmate van die NG Kerk Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria. Voor (van links) sit ds. Johan Conradie van Townsview in Johannesburg, ds. Johan Stander van Krugersdorp-Noord en die afgetrede predikant ds. Schalk Naudé. Agter staan Gustaf Claassen, sekretaris van die algemene sinode, ds. Dirkie van der Spuy van die NG kerk Moreletapark en ondervoorsitter van die algemene sinode, Hans Oosthuizen, prokureur namens die NGK, en voor staan dr. André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode.Foto: Deaan Vivier

Ingevolge die hof se beslissing is die kerk se vorige besluit van 2015 nou weer geldig.

Die hof het in sy uitspraak gesê die NGK het nie by sy eie reëls gehou toe hy in 2016 besluit het om 2015 se besluit te herroep of te verander nie.

Verder het die hof bevind die NGK het wel inbreuk gemaak op die regte van hul gay lidmate.

Die groep wat die saak na die hooggeregshof geneem het, sluit in dr. Frits Gaum, voormalige redakteur van Kerkbode, en sy seun Laurie Gaum. Hulle het aangevoer die huwelik is ’n statutêre instelling. Omdat die staat ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006) beslis het gay-paartjies mag trou, moet die NGK hom daaraan onderwerp. Deur hulle te verbied om in die kerk van hul keuse te trou, is ’n skending van hul menseregte.

Die NGK het op sy beurt aangevoer die kerkbesluit skend nie gays se regte nie, omdat hulle vry is om by enige Christelike kerk aan te sluit wat die Bybel soos hulle vertolk. Andersins kan gay mense ook hul eie kerk begin, het die kerk gesê.

“Die probleem is wanneer die kerk die hof nader, dan geld die reëls van die land en moet dit toegepas word deur die howe. In hierdie saak is daar gesteun op die Handves van Menseregte en dit is verkeerd om op grond van godsdienstige oortuiginge ’n besluit te neem oor die grondwetlike regte van ander,” sê die hof.

Dr. André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode, Gustaf Claassen, sekretaris van die algemene sinode, ds. Dirkie van der Spuy van Moreletapark en ondervoorsitter van die algemene sinode, en Hans Oosthuizen, prokureur vir die NG Kerk, gesels Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria waar uitspraak gelewer is in die saak van die NG Kerk se besluite oor selfdegeslaghuwelike en -verhoudings. Foto: Deaan Vivier

Die hof het ook gesê die NGK kon geen argumente voorhou oor hoekom sy 2016-besluit in belang van die samelewing is nie.

“Die besluit het die standpunte van die oorgrote meerderheid van die kerk gesteun, maar nie dié van die minderheid of die breër samelewing nie.”

Die hof sê met die 2016-besluit is gay lidmate se reg op vryheid van geloof, gelykheid en privaatheid vertrap. Hul geloofsoortuigings en keuse om deel te wees van sekere kulturele en geloofsinstellings is hulle ontneem.

Rakende die wyse waarop die NGK se sinode met die 2016-besluit te werk gegaan het, het die hof bevind daar was onreëlmatighede.

Ds. Dirkie van der Spuy van die NG kerk Moreletapark en ook die ondervoorsitter van die algemene sinode gesels Vrydag in die hof met Hans Oosthuizen, die prokureur van die NGK. Foto: Deaan Vivier

“In teenstelling met die vorige besluit het die 2016-besluit nooit terugverwys na die 2015-besluit nie. Die 2015-besluit is nooit tersyde gestel, bevestig of gestaaf nie,’’ sê die hof.

Ingevolge die NGK se kerkorde kon die 2015-besluit aangepas, vervang of hersien word, maar dit is nie gedoen nie.

Derhalwe het die hof besluit om die 2016-besluit onwettig en ongeldig te verklaar en staan die 2015-besluit intussen.

WAT SÊ DIE KENNERS

Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, meen die uitspraak sal nie noodwendig ’n uitwerking op ander kerke of gelowe hê nie.

Hoewel die uitspraak kortliks gehandel het met die inbraak wat daar gemaak is op lidmate se regte, sê hy die saak is meer tegnies van aard. “Die uitspraak het net betrekking op die NGK.”

Kenners by Freedom of Religion South Africa (FOR SA) is nie heeltemal oortuig hiervan nie.

Dié instansie, wat hom beywer vir geloofsvryheid, het Vrydag die volledige uitspraak bestudeer.

Vir FOR SA is dit belangrik dat daar so gou moontlik regtens uitsluitsel gekry moet word om seker te maak ander kerke en gelowe word nie beïnvloed nie. Hulle sal volgende week ’n volledige verklaring uitreik.

Dr. Frits Gaum het die hof se besluit verwelkom. Hy meen reg en geregtigheid het geskied en dat die kerk twee keer sal dink voordat hy weer vir sy lidmate sal voorskryf.

Verder het hy die hoop uitgespreek dat die kerk hom sal berus by die hofuitspraak.

Hy voel die 2015-besluit is goed, want dit laat ruimte vir almal se sieninge.

“Ek glo as gelowiges moet ons kan uitlewe wat ons is en hoe God ons gemaak het. Ons seksualiteit is tog deel van ons menswees,” sê Gaum.

Laurie Gaum is verheug oor die uitspraak.

“Dit is ’n merk langs die pad. Ons is heeltemal oortuig dat die hof die regte besluit geneem het,” sê Laurie.

“Dit was nie ’n maklike pad nie, en ons is goed bewus van diegene wat ons langs die pad verloor het.”

Neels Jackson, ook ’n voormalige redakteur van Kerkbode, meen die sinode sal nie noodwendig teen die hof se besluit appelleer nie. Hy glo die aangeleentheid sal wel later in die jaar by die kerk se volgende algemene sinodesitting bespreek word.

Dr. Nelis Janse van Rensburg, die moderator van die NGK, het Vrydag by navraag gesê die kerk sal later reageer op die hof se uitspraak.

Volgens Janse van Rensburg sou daar eers ’n vergadering gehou word om die aangeleentheid te bespreek, waarna ’n mediaverklaring later uitgestuur sal word.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Hof  |  Gays  |  Regte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.