Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof skop aktiviste uit luukse huis, maar hulle kry ‘klein oorwinning’

Vir die queer aktiviste wat die afgelope twee weke in ’n luukse villa in Kampsbaai plak, was twee doodsdreigemente, ’n klomp negatiewe kommentaar en ’n uitspraak teen hulle in die hooggeregshof nie genoeg om hul geesdrif vir hul stryd te demp nie.

Die respondente (nie in volgorde nie) is Kelly-Eve Koopman, Wewe Ngidi, Sarah Summers, Xena Scullard, Lethabo Hanong, Vatheka Halile en Devaarne Muller. Foto: Edrea du Toit

Nadat die eienaars van die huis ’n hofbevel gekry het dat hulle teen komende Donderdag moet uit, het die sewe aktiviste op sosiale media gesê: “Die manier waarop ons ons feministiese politiek beliggaam het, is ’n klein oorwinning na ’n onafwendbare globale queering van die reg. Aluta continua.”

Kelly-Eve Koopman, een van die aktiviste, het verlede week vir Rapport gesê hulle het dit teen ongelykheid en die feit dat luukse blyplek soos die Villa Panacea wat hulle beset het, leeg staan terwyl armes haweloos is.

Volgens Larsen Chemicals, wat die huis besit, het een van die besetters, Devaarne Muller, ’n elektroniese bespreking gedoen en as motivering vir die bespreking geskryf: “Ek is van Kaapstad, het bietjie tyd nodig met my familie. Stilte, ontspannende naweek. Sien regtig baie uit om jou huis te geniet en liefde te deel met my familie.”

Aktiviste moet voor Donderdag trek.

Muller het toe R13 179 vir drie dae se verblyf betaal.

Die groep het op 18 September ingetrek en weier sedertdien om uit te trek.

Larsen Chemicals sê hulle verloor sowat R50 000 per maand aan huurgeld.

Die groep het ’n dag voor die hofuitspraak op hul Facebook-blad, We See You, gesê daar is baie mense wat nie verstaan hoekom hulle die huis beset het nie.

Nou het die hof gesê hulle moet Donderdag voor middagete trek. Doen hulle dit nie, mag die balju en die polisie hulle uitgooi. Hulle sal dan ook die huiseienaar se regskoste moet betaal.

Gaby van Wyk, besturende direkteur van die verhuringsmaatskappy Turnkey365, sê hulle is tevrede dat die reg en eiendomsregte gehandhaaf is. Sy sê die besetters se optrede het vertroue in die verhuringsmark geskaad en tot ’n verlies van inkomste vir die verhuurder gelei. “Dit in ’n tyd dat ons en baie ander in die toerismebedryf desperaat probeer om van die finansiële vernietiging van Covid-19 te herstel.”

Die besetters het nie op Rapport se verdere navrae gereageer nie.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Besetters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.