Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof spreek ds. vry, maar gemeentes verhard hul hart

Die dominee wat deur die hof vrygespreek is dat hy ’n “kerktannie” voor ’n erediens geklap het, eis nou dat die Florida-ring van die NG Kerk in Roodepoort vir hom ’n “volwaardige afskeid” reël waartydens hy ’n erediens waarneem, die nagmaal bedien en ’n toespraak by sy afskeidsgeleentheid lewer.

Ds. Daniël Louw Foto: Deon Raath

Ds. Daniël Louw (69), voorheen predikant van die NG gemeente Flori­da­park, sê dis sy hartsgebed dat sy medepredikante in dié ring met hom versoen.

Louw is nooit geskors nie en het in 2014 ’n pakket gekry. Hy is steeds beroepbaar.

Sy lastereis van R150 000 teen die gemeentelid wat volhou hy het haar deur die gesig geklap, word dié week in die hof aangehoor.

Louw sê dis al manier waarop hy sy naam kan skoon kry.

‘Hulle het my, ’n jare lange kollega, verstoot.’

Hy dring ook daarop aan dat die ring sy klag teen die gemeentelid, Irma Steenkamp, ondersoek omdat sy volgens hom valse beskuldigings gemaak het.

“Die hof het my onskuldig bevind (aan aanranding), maar my posisie en status is verwoes.”

Die Floridapark-gemeente is einde September verlede jaar by die Constantiakruin-gemeente ingelyf.

Louw bestuur deesdae sy eie bediening, Daniel Ministries, en het intussen ’n doktorsgraad oor die Bybelboek Openbaring aan die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi. Hy preek steeds gereeld Sondae by gemeentes in Gauteng, maar volgens hom kry hy geen geleenthede by gemeentes binne sy voormalige ring nie.

Irma Steenkamp buite die hof. Foto: Deon Raath

“Ek het die afgelope vyf jaar 90 keer aansoek gedoen vir poste as ’n beroepbare predikant, maar niks het gebeur nie. Dit maak nie sin nie, want ek het nie ’n misdaadgeskiedenis nie. Ek is hoogs gekwalifiseerd en ek doen teologiese navorsing wat vir my ’n pos behoort te waarborg.

“Ek vermoed dit is omdat ek geskei is en dat my naam beswadder word wanneer kerkrade navraag by die Florida-ring oor my doen.

“Ek soek nou ’n kerklike getuigskrif van die Florida-ring wat sê ek is vrygespreek van enige aandadigheid vir die verbrokkeling van my huwelik om my in staat te stel om my beroep te beoefen. Hulle weier om ’n ondersoek te doen soos wat ek versoek het.”

Volgens hom ignoreer hulle ook sy versoeke vir ’n afskeidsgeleentheid.

Hy sê hy word soos ’n melaatse deur die ring hanteer.

Louw sê Steenkamp het onder kruisverhoor in die hof erken dat daar mense in die kerk was wat van hom ontslae wou raak. Hy glo dieselfde mense probeer steeds om hom uit die kerk te werk.

“Die predikante van die ring het vir Steenkamp in haar hofsaak bygestaan eerder as vir my. Hulle het my, ’n jare lange kollega, verstoot. Hoe verantwoord hulle hul gedrag noudat ek vrygespreek is?

“Ek vra nou om saam met hulle ’n koppie koffie te drink om die saak te besleg, maar hulle wil my glad nie sien nie.”

Dr. Wicus van der Merwe, skriba van die Florida-ring, sê hulle kan Rapport se navrae eers oorweeg wanneer hulle volgende week sit.

Steenkamp sê sy wil nie kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie.

Sy het destyds ná afloop van die hofsaak ontken dat daar teen Louw saamgespan is.

Sy het beweer hy het nie die volle waarheid in die hof gepraat nie. “Ek wil niks van Danie Louw weet nie,” het sy gesê.

Meer oor:  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.