Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof straf Bfn-advokaat met regskoste

’n Advokaat van Bloemfontein moet nou self regskoste uit sy eie sak opdok oor onder meer sy “aanmatigende houding teenoor die hof”, het twee regters van die Vrystaatse hooggeregshof gelas.

Adv. Erwin Smit, ’n private ondersoeker wat as ’n onafhanklike advokaat uit Pellissier in die stad praktiseer, het selfs so ver gegaan om na ’n streeklanddros in die stad as die “hoofbeskuldigde” te verwys.

Hy moet die helfte van die regskoste van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat en ook die streeklanddros in sy hersieningsaansoek in die hooggeregshof betaal, is in ’n uitsonderlike bevel gelas.

Sy kliënt moet die ander helfte betaal. Dit kan saam derduisende rande beloop.

Boonop het regter Johann Daffue gelas Smit se gedrag moet na die Vrystaatse vereniging van advokate verwys word vir oorweging en om die nodige stappe te doen.

Regter Fouché Jordaan het met dié bevindinge saamgestem.

Smit het ’n hersieningsaansoek in die hooggeregshof gebring nadat hy in ’n verhoor in die streekhof beswaar gemaak het oor die toelaatbaarheid van sekere getuienis teen sy kliënt.

Daffue het gesê die wyse waarop Smit in sy betooghoofde na streeklanddros Dawn Soomaroo verwys het, is barbaars. Hy het haar in sy aansoek onnodig persoonlik aangeval.

“Dit is aanduidend van ’n arrogante, onprofessionele en onetiese benadering deur hom.”

Verder moes die streekhof reël dat die verrigtinge van die verhoor getik word en talle bewysstukke moes gekopieer word. Altesaam 11 drukbooglêers is by die hof ingedien.

“Maar toe besluit mnr. Smit die getikte rekord is onbelangrik.”

Smit en sy kliënt moet ook die koste vir die voorbereiding en afskrifte van die getikte streekhofverrigtinge betaal.

Daffue is ook duidelik baie omgekrap oor die toestand waarin Smit sy aansoekstukke ingedien het.

“Die aansoekstukke is in ’n chaotiese toestand.”

Smit het ook nie die bestaande reëls oor die indiening van die stukke nagekom nie.

Smit het ’n hersieningsaansoek in die hooggeregshof gebring nadat hy in ’n verhoor in die streekhof beswaar gemaak het oor die toelaatbaarheid van sekere getuienis teen sy kliënt.

Hy het die hooggeregshof gevra om die getuienis uit te gooi, nog voordat Soomaroo ’n bevinding oor die toelaatbaarheid daarvan in ’n verhoor binne ’n verhoor gedoen het.

Dié aansoek is deur Daffue geweier.

Adv. Johan Swanepoel het vir die NVG in die Vrystaat opgetree.

* Smit tree vir Thuso Abram Leanya, ’n voormalige aankoper van die Mohokare-munisipaliteit in Smithfield, in ’n bedrogverhoor met 186 aanklagte voor Soomaroo op. Sowat R90 000 is glo by die aanklagte betrokke.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Uitspraak  |  Advokaat  |  Regskoste  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.