Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof toe ná matriek-nagmerrie

’n Matriekmeisie van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria het ’n interdik gekry teen ’n seun van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion, wat glo by haar skool opgedaag het en aangedring het dat sy saam met hom matriekafskeid toe gaan, “want hy is god”.

Marizanne Meyer (18), ’n matriekleerling aan die Hoër­skool Waterkloof, het ’n interdik gekry teen ’n leerling van die Hoër­skool Eldoraigne. Foto’s: Facebook

Ingevolge die hofbevel mag Tertius Kotze (18) nie vir Marizanne Meyer (18) persoonlik, telefonies of per e-pos en sosiale media kontak nie. Sy ma, Tersia Ackerman (49), mag hom ook nie help om met haar kontak te maak nie.

Marizanne sê in ’n beëdigde verklaring sy vrees vir haar lewe en kry nagmerries nadat Tertius en sy ma in April uit die bloute by haar skool opgedaag het.

Die ontvangsdame van die skool het haar ontbied, sê sy, en toe sy by die kantoor kom het ’n onbekende seun en vrou (Tertius en sy ma) haar daar ingewag.

“Ek het hulle nog nooit voorheen gesien nie. Die vrou het vreesbevange gelyk. Die eerste respondent (Tertius) het na my gestap en gevra of ek saam met hom na die matriekafskeid sal gaan. Dit het my ongemaklik laat voel, aangesien ek hom nog nooit vantevore gesien het nie.”

Sy het hom gevra hoe hy haar ken en hy het glo geantwoord: “Ek ken jou van die begin tot die einde. Ek is god en jy is my dissipel.”

Sy het groot geskrik.

Tertius Kotze

“Hy het my hand gegryp en my in ’n stoel in gedruk. (Sy ma) het langs my kom sit sonder om ’n woord te sê,” vertel Meyer in haar beëdigde verklaring.

Sy het gesê hulle ken mekaar glad nie, maar Tertius wou niks hoor nie.

Hy het volgehou hy is die kerk en god het hom na haar toe gestuur.

Marizanne sê sy ma het toe begin bewe.

Sy sê in haar verklaring Tertius het haar aan haar arm getrek en beveel om saam met hom te gaan. Sy ma het ook vir haar gesê om hom te vergesel.

“Toe ek vir hom sê ek kan nie saam met hom gaan nie, want ek het klas, het hy aggressief geraak en sy stem het dieper en harder geword.”

Tersia Ackerman, Tertius se ma, is verbied om haar seun te help.

Luidens die verklaring het die skool se sekretaresse saam met hulle uitgestap en vir Tertius gesê Marizanne sal hom per WhatsApp laat weet of sy saam met hom matriekafskeid toe sal gaan. Hy het toe glo geantwoord hy glo nie in selfone nie en dat God dit reeds verwyder het.

“Toe die sekretaresse probeer inmeng, gryp (Tertius) haar aan die keel. Toe ek hom vra om haar uit te los en beloof om vir hom ’n brief te skryf, het hy my ook aan die keel gegryp. Ek kon daarin slaag om uit sy greep los te kom,” lui Marizanne se verklaring.

Sy het in die kantoor in gehardloop met Tertius agterna. ’n Mansonderwyser het tussenbeide getree en hom op die vloer vasgedruk, terwyl ’n ander onderwyser Marizanne na haar klaskamer gevat het.

In haar verklaring sê Marizanne Tertius was in die verlede by verskeie hospitale ingeboek vir waarneming.

Nóg Marizanne nóg Tertius se ouers wou met Rapport praat, maar ’n persoon ná aan Ter­tius het aan Rapport gesê geen siektetoestande of versteurings is ooit by hom gediagnoseer nie.

“Hy is ’n vreedsame, liefdevolle kind en ons sukkel nooit om hom in die (NG) kerk te kry nie. Hierdie ding het hom erg getraumatiseer.”

Die persoon sê Tertius moes nooit na die skool gegaan het nie.

“Die meisie is onskuldig. Dit is so dat hy haar van geen kant af ken nie.”

Sy ouers is geskei en hy woon by sy pa.

Marizanne skryf sy is bang vir Tertius.

“Ek is baie bang vir waartoe (hy) in staat is. Ek is bang die seun en sy ma sal my kom soek en my seermaak. Ek kry saans nagmerries. Die vrees vir my veiligheid het ’n effek op my studies en my wiskundepunt het met 15% gedaal.”

Sy sê die nuus oor twee skoolmeisies van Stella wat onlangs in hul koshuis vermoor is, het haar vrees laat toeneem.

Tertius is ’n kranige amateurfotograaf en was vanjaar nog lid van Eldoraigne se fotografieklub.

’n Verteenwoordiger van die skool het aan Rapport gesê hy is sedert die voorval nie meer ingeskryf by die skool nie. “(Hy) het ook nie opgetree in sy hoedanigheid as leerling van die skool nie.”

Sy pa, Francois, skryf in ’n brief aan die Meyers se prokureur dat hy die inhoud van die interdik met sy seun sal bespreek.

“Ons verstaan waarom dit gedoen word en Tertius sal nie die saak teenstaan nie.”

Die Hoërskool Waterkloof sê hulle is bewus van die voorval in April, maar wou nie kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.