Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof toe oor raad skuldige heraanstel

’n Belastingbetalersvereniging in die Wes-Kaap baklei nou tot in die konstitusionele hof om te keer dat ’n stadsraad weer ’n munisipale bestuurder aanstel wat vroeër in die pad gesteek is – deur die einste stadsraad.

Peter Gaylard, voorsitter van die Plettenbergbaai-belastingbetalersvereniging, sê hy is nie beïndruk daarmee dat die kwessie nou in die hoogste hof in die land beland het nie.

Lonwabo Ngoqo, Bitou se munisipale bestuurder Foto: Knysna-Plett Herald

“Die geld en tyd wat vermors word, kan baie beter aangewend word. Ons het geen keuse in die saak nie. Ons het ’n verpligting teenoor die gemeenskap om die verkwisting, wanbestuur en korrupsie te keer wat die norm in die Bitou-munisipaliteit is,” sê Gaylard.

Die vereniging het verlede jaar toegetree as ’n vriend van die hof toe die arbeidsappèlhof ’n bevel van die arbeidshof bekragtig het dat die aanstelling van Lonwabo Ngoqo as munisipale bestuurder tersyde gestel moet word.

Die munisipaliteit het Ngoqo in Februarie 2019 as munisipale bestuurder aangestel ondanks die feit dat hy in 2012 deur dieselfde munisipaliteit afgedank is ná ’n tugverhoor waarin hy skuldig bevind is aan ernstige finansiële wangedrag.

Ingevolge die wet word munisipaliteite belet om enigiemand vir ’n tydperk van tien jaar aan te stel nadat hulle aan ernstige wangedrag skuldig bevind is, maar die stadsraad steur hom nie hieraan nie, sê Gaylard.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het hom in 2019 tot die arbeidshof gewend.

Daar is gelas dat die ooreenkoms tussen Ngoqo en die munisipaliteit om hom R781 000 te betaal as “vergoeding” vir die koste wat hy destyds moes aangaan in sy regstryd teen die afdanking in 2012 asook sy heraanstelling as munisipale bestuurder, tersyde gestel moet word. ’n Kostebevel is ook teen die stadsraad gemaak.

Die stadsraad het hom nou tot die konstitusionele hof gewend in ’n laaste poging om die hof te oortuig om die arbeidshof en die arbeidsappèlhof se beslissings ongeldig te laat verklaar.

Bredell sowel as die belastingbetalersvereniging staan dit teen.

Gaylard sê hulle wil die hof oortuig om die munisipaliteit se aansoek van die hand te wys. “Dit is in die gemeenskap se belang dat die stadsraad nie nog belastingbetalers se geld hierop vermors nie. Dit het geen meriete nie, maar die stadsraad ploeg net voort met die saak. Hulle het reeds meer as R2 miljoen van belastingbetalersgeld hierop vermors.”

Ngoqo is in 2012 skuldig bevind aan wangedrag toe vasgestel is die stadsraad wou grond vir R28 miljoen koop terwyl ? onafhanklike waardeerder gevind het dit is slegs R2,4 miljoen werd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.