Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof wysig trust sodat dié twee kinders mag erf

Die konstitusionele hof het bevind ’n oupa wat sy aangenome kleinkinders uit sy boedel gesluit het, het onbillik teen hulle gediskrimineer.

Die grafsteen in die Maitland-begraafplaas in Kaapstad van wyle Louis John Druiff en sy vrou, Elizabeth.

Die kwessie het sy oorsprong reeds in die 1950’s, toe Louis John Druiff, van Kaapstad, besluit het om sy bates in ’n trust aan sy nasate te bemaak. Druiff se vier kinders en sy kleinkinders was die begunstigdes van die trust. Met sy dood moes die trustinkomste gelykop tussen sy kinders verdeel word.

’n Klousule van die trustakte lui as enige van sy kinders reeds dood is, moet dié se erfporsie aan sy/haar “wettige afstammelinge” gaan.

Druiff is in 1953 in die ouderdom van 84 dood.

Toe hy nog geleef het, het een van sy vier kinders, Dulcie Harper van Port Elizabeth, vir hom gesê sy het twee miskrame gehad en sy oorweeg dit om kinders aan te neem.

Harper het David Wilkinson in Julie 1955 aangeneem – ’n week ná sy geboorte – en sy sussie, Amanda Wilkinson (nou Truter), in Augustus 1957 toe dié ’n paar weke oud was.

In 2016, toe Harper al in haar 90’s was, het sy die hooggeregshof in Kaapstad gevra om te verklaar dat die woorde “kinders” en “afstammelinge” in haar pa se trustakte haar aangenome kinders insluit.

Sy was bang haar kinders gaan nie uit die trust erf nie.

Die hooggeregshof het die aansoek van die hand gewys en voordat die appèlhof die saak kon aanhoor, is Harper in Desember 2017 dood. Die appèlregters was verdeeld oor die saak, maar dié hof het ook die aansoek in ’n meerderheidsbeslissing van die hand gewys.

‘Aangenome kinders is kwesbaar.’

Wilkinson en Truter het in die konstitusionele hof aangevoer hul uitsluiting as aangenome kinders druis in teen die openbare beleid en daarom kan die trustakte nie afgedwing word nie.

Dié hof het Wilkinson en Truter op 16 April tot begunstigdes van ’n kwart van die kapitaal in die L.J. Druiff-trust verklaar.

Wilkinson is ook reeds dood en hy is as party in die saak deur twee familielede vervang wat eksekuteurs van sy boedel is.

Regter Nonkosi Mhlantla het in die konstitusionele hof se uitspraak gesê die saak gaan oor die interpretasie van ’n private trustakte van 1953. Die akte is opgestel toe die Kinderwet van 1937 aangenome kinders nog uitgesluit het daarvan om in testamente te erf, tensy daar duidelik uitgespel is dat hulle moet erf.

Toe die trustakte opgestel is, het Druiff geweet sy dogter oorweeg aanneming. Tog het hy nie ’n duidelike bedoeling uitgestippel dat aangenome kinders deur die trust begunstig kon word nie.

Om ’n duidelike bedoeling oor te dra mag daar nie dubbelsinnigheid wees nie. Dit kan nie bevind word dat die frase “wettige afstammelinge” ’n duidelike boodskap uitspel om aangenome kleinkinders in te sluit nie, het Mhlantla gesê. Dus kan die akte nie geïnterpreteer word om die aanneemkinders as begunstigdes in te sluit nie.

Sy het gesê howe mag trustbepalings wysig om in pas met die Grondwet te wees. Dit het voorheen gebeur toe ’n openbare liefdadigheidstrust beurse uitgedeel het aan studente wat slegs van “Europese herkoms” was en nie aan dié van Joodse herkoms nie.

Diskriminasie teen mense op grond van hul aangenome status is diskriminasie op grond van geboorte.

Aangenome kinders is ’n kwesbare groep in Suid-Afrika en daar klou ’n “sosiale stigma en beperking van waardigheid” aan sulke kinders, soos by kinders “wat nie netjies by die kerngesin inval nie en wat nie biologies uit getroude ouers gebore is nie”.

Om diskriminasie teen aangenome kinders toe te laat op grond van hul geboorte sal die einste doel van aanneming ernstig ondermyn. Dit sal eenvoudig hul waardigheid aantas, het Mhlantla bevind.

Dus diskrimineer die Druiff-akte onbillik teen Wilkinson en Truter op grond van hul geboorte of hul aangenome status.

Meer oor:  Erflating  |  Boedel  |  Trust  |  Konstitusionele Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.