Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hofbevel teen grondgrypers by De Wildt

Die geld wat Julius Malema, EFF-leier, aan AfriForum vir regskoste betaal, word nou gebruik om grondbesetting in Suid-Afrika hok te slaan.

Só sê Ian Cameron, hoof van AfriForum se landelike gemeenskapsveiligheid, nadat die hooggeregshof in Pretoria Maandag ’n dringende aansoek toegestaan het teen onwettige grondbesetters by De Wildt in Noordwes. Dit is sowat 40 km buite Pretoria.

Malema moes onlangs AfriForum se regskoste betaal in talle aansoeke wat hulle teen hom gebring en gewen het, omdat hy in die openbaar mense aangehits het om grond te gryp.

Een van die sinkhuise wat op 'n stuk private grond by De Wildt in Noordwes opgerig is. Foto: Verskaf

“Behalwe vir die ironie dat Malema nou inderwaarheid betaal om grondgrype hok te slaan, is die hofuitspraak weer eens ’n oorwinning vir AfriForum in die stryd om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm,” sê Cameron.

Die hofbevel dwing die polisie nou om op te tree en die onwettige grondbesetters van die private grond van sowat 50 ha te verwyder.

AfriForum is die afgelope drie weke besig om grondeienaars in De Wildt by te staan nadat mense op hul grond opgedaag en erwe uitgemeet het.

Daar is selfs sinkhutte op van die erwe opgerig.

Die grondeienaars en AfriForum het die polisie herhaaldelik gevra om die onwettige grondbesetters te verwyder. Daarvan het egter dadels gekom.

Luukse motors is die afgelope drie weke in De Wildt in Noordwes gesien waar grondbesetters toegeslaan het. Foto: Verskaf

Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling, sê die polisie het geweier om betredingsake te ondersoek.

Sowat 100 mense het Saterdag weer in luukse motors by die grond opgedaag en begin om erwe uit te meet. Dit het die vorige twee naweke ook gebeur.

Ian Cameron, hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid, by die private grond in De Wildt. Foto: Verskaf

Kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, het Vrydag bevestig dat die grondeienaars ’n klag van betreding by die Mmakau-polisiekantoor aanhangig gemaak het.

Volgens haar het van die mense wat erwe uitgemeet het ’n teenklag by die polisie ingedien en gesê die grond behoort aan hulle.

Funani sê die polisie kan nie in so ’n geval, “waar twee groepe mekaar die skuld gee”, optree nie.

“Ons het vir die twee groepe gesê hulle moet die hof nader vir ’n beslissing.”

Sy kon nie Maandagmiddag bereik word om kommentaar te lewer op die hofinterdik wat die polisie nou wetlik verplig om die onwettige grondbesetters te verwyder nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Ian Cameron  |  Julius Malema  |  Grondgrypers  |  Hofbevel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.