Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hofgeding oor vuurwapen-amnestie

Die Nasionale Jag- en Skiet Assosiasie (NHSA) het Maandag ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die vuurwapen-amnestie wat op 1 Desember in werking getree het en tot 31 Mei duur, tersyde te stel.

Ingevolge die amnestie sal Suid-Afrikaners die geleentheid hê om ongelisensieerde vuurwapens en vuurwapens wat hulle nie meer wil hê nie, in te dien sonder om vervolg te word. Dit sal Suid-Afrikaners ook die geleentheid gee om hul vuurwapenlisensies wat verval het, te hernu.

NHSA wil die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) daardeur dwing om met vuurwapenbelangegroepe in te praat om “ ’n sinvolle amnestieproses in werking te stel wat in belang van wetsgehoorsame burgers is”.

“Oor die afgelope 28 maande wou die SAPD glad nie met vuurwapenbelangegroepe praat nie en is hul plan duidelik om vuurwapeneienaars nie billik te behandel nie,” het die NHSA in ’n mediaverklaring gesê.

Ter IllustrasieFoto: Argief

Die groep glo die heersende amnestie hou niks goed vir vuurwapeneienaars in nie.

Dr. Herman Els, uitvoerende voorsitter van NHSA, sê dit is duidelik dat die amnestie as instrument gebruik word om alle vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, onder onredelike druk te plaas om dié wapens by die polisie in te gee.

“Alhoewel vuurwapeneienaars binne 14 dae na indiening vir ’n ‘nuwe lisensie’ aansoek kan doen, sal daardie vuurwapen in die polisie se besit bly tot die aansoek afgehandel is,” het Els gesê.

Hy sê dit sal waarskynlik maande lank duur en niemand weet hoe die polisie die aansoek sal hanteer nie, want hulle wil “oortollige” en “ongewenste” vuurwapens, minder maak.

Els wys daarop dat talle vuurwapeneienaars weens omstandighede buite hul beheer, nie betyds aansoek kon doen vir die hernuwing van hul lisensies nie.

“Hierdie mense wil graag hul vuurwapens wettig besit, maar omdat lisensies weens verskeie redes nie betyds hernu is nie en verval het, moet hulle nou daardie vuurwapens tydens die amnestie ingee onder die polisie se verskuilde agenda.”

Volgens die assosiasie is dit algemene kennis dat die polisie volgende jaar ’n wetswysiging wil deurvoer waarvolgens die publiek nie toegelaat sal word om vuurwapens vir selfverdediging te besit nie.

“NHSA glo die Wet op die Beheer van Vuurwapens maak voldoende voorsiening om die probleem (van laat aansoeke) reg te stel, want dit laat die nasionale polisiekommissaris toe om met die opgawe van goeie redes tydperke te verleng sodat mense hul lisensies na die vervaldatum kan hernu, sonder om hul vuurwapens in te handig en soos misdadigers behandel word,” verduidelik Els.

NHSA het talle besware teen die huidige amnestie en die manier hoe dit in werking gestel is, insluitend dat hulle glo mense is geregtig om hulself met vuurwapens teen gewapende misdadigers te verdedig omdat die polisie nie oral kan wees nie en dat die amnestie en die voorgestelde wetswysigings as ’n ernstige poging van SAPD gesien word om onbeskermde wetsgehoorsame burgers te ontwapen.

“Ons vra die hof om opdrag te gee dat die polisie nie weer by die parlement aansoek mag doen vir ’n amnestie totdat daar nie behoorlike konsultasie met die geïgnoreerde vuurwapenbelangegroepe was nie. Dit is ontstellend dat die polisie voortdurend praat met siviele groepe soos Gun Free South Africa wat op rekord is dat hulle die private besit van vuurwapens geheel en al wil laat verbied,” sê Els.

Die NHSA se hofstukke vra verder dat die hof die polisie moet verbied om enigiemand in hegtenis te neem of te vervolg vir die besit van vuurwapens waarvan die lisensie verval het, totdat ’n nuwe onderhandelde amnestie afgekondig is.

“Die minister weet sy amptenare kan nie oral wees om die publiek teen geweldenaars te beskerm nie. Die NHSA versoek die minister van polisie . . . om gewoon sy plig na te kom en nie weerlose wetsgehoorsame landsburgers aan gewelddadige misdadigers uit te lewer omdat hy hul vuurwapens van hulle af weggeneem het nie,” sê Els.

Els beveel aan dat mense wat beplan om aansoek te doen vir ’n lisensie ingevolge die amnestie, nie in dié stadium hul vuurwapens indien nie totdat die uitslag van die hofaansoek bekend is. Hy sê die hofuitspraak word binnekort verwag.

“Dit bly natuurlik mense se eie besluit om nou reeds vuurwapens ingevolge die amnestie by SAPD in te dien,” sê Els.

Els sê mense wat hul vuurwapens vir vernietiging wil inhandig, kan dit by hul naaste polisiestasie doen maar moet geskrewe bewys daarvan kry sodat die wapens van hul naam verwyder kan word.

NHSA sê hy kan nie toelaat dat sy lede en ander wetsgehoorsame vuurwapeneienaars só behandel of ontwapen word nie.

“Alle vuurwapeneienaars is nie misdadigers nie,” sê Els.

Meer oor:  Vuurwapen-Amnestie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.