Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hofmeyr-‘aanrander’ weer in hof - vir ander geveg

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy destyds vir Devon Hofmeyr aangerand het, het Vrydag in die landdroshof in Hatfield, Pretoria, verskyn op nog ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Carel Odendaal (34) het vroeër die oggend, vergesel van sy prokureur, by die polisiekantoor in Garsfontein aangemeld, waarop hy gearresteer en hof toe geneem is.

Carel Odendaal wat Vrydag in die hof verskyn het, ná nog ’n beweerde aanranding kort nadat hy op borgtog vir die aanval op Devon Hofmeyr vrygelaat is. Foto: Facebook

Dit volg ná ’n ondersoek waarin beweer word dat Odendaal net dae nadat hy op borgtog vrygelaat is vir die Hofmeyr-saak, glo nog ’n man by ’n kuierplek so erg aangerand het, dat ook dié man met verskeie gebreekte bene in sy gesig in die hospitaal beland het.

Hy moes, volgens familielede, rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig kry.

Hoewel Odendaal se identiteit, adres en werkplek bekend was, is hy eers gearresteer toe hy Vrydag gaan aanmeld het, glo juis omdat hy gehoor het hy word ondersoek.

Hy het later die dag in die hof verskyn, maar moes weens die hangende Hofmeyr-saak teen hom, nou ’n formele borgtogaansoek bring om te bewys dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy vrygelaat word.

Die hof het tydens sy borgtogaansoek gehoor dat hy getroud is en dat sy kinders een en vier jaar oud is.

Odendaal is ook ’n BBP-veiligheidswag (opgeleide lyfwag) verbonde aan ’n veiligheidsmaatskappy.

Francois Joubert, sy prokureur, het tydens die borgtogaansoek gesê Odendaal is nie ’n vlugrisiko nie en het sedert hy gehoor het dat hy ondersoek word, sy samewerking aan die polisie gegee.

Daarby, voer die verdediging aan, het hulle na die beeldmateriaal van veiligheidskameras by die Action Bar, langs die Presley’s nagklub in die ooste van Pretoria, gekyk.

Hiervolgens blyk dit glo dat die klaer/slagoffer “die aggressor” was in die bakleiery.

“Die polisie stem met ons saam en ons gaan dus vertoë rig dat die vervolging teen die beskuldigde gestaak word,” sê Joubert.

Odendaal is borgtog van R1 000 toegestaan. Die saak is uitgestel vir die verdediging se vertoë en dat die staat ook na die beeldmateriaal kan kyk.

* Odendaal moet ook later dié maand in die landdroshof in Pretoria verskyn op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat Hofmeyr op 6 Junie buite die Platteland-dans en -diskoklub in Centurion so deur twee mans aangerand is, dat hy met ’n gebreekte kakebeen en bloeding op die brein in ’n hospitaal opgeneem en geopereer moes word. Hofmeyr is een van Steve Hofmeyr se seuns.

Odendaal is op 23 Julie aangekla nadat hy homself by die polisiekantoor in Lyttelton gaan aanmeld het.

Meer oor:  Devon Hofmeyr  |  Garsfontein  |  Pretoria  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.