Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hofsaak kom oor transgender-vrou in manstronk

’n Veroordeelde moordenaar sleep onder andere die minister van justisie en korrektiewe dienste na die gelykheidshof omdat sy as transgendervrou meen haar regte word in ’n manstronk geskend.

Jerome Benjamin is in 2013 skuldig bevind aan die moord op Graham Flax in Seepunt, Kaapstad. Benjamin het skuld beken en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Jade September in 2013 toe sy gevonnis is weens die moord op Graham Flax. Foto: Nasief Manie

Nou, vyf jaar later, het Regslui vir Menseregte (LHR) bekend gemaak dat hulle Benjamin, nou bekend as Jade September, in die gelykheidshofsaak gaan verteenwoordig.

LHR het die saak teen verskeie hoofde van verskeie tronke, asook die minister van justisie en korrektiewe dienste, ingedien. September word tans in die Malmesbury-tronk aangehou.

Sanja Bornman, September se regsverteenwoordiger, voer aan September word geteiken en onregverdig behandel omdat sy haar voorkeur uitleef.

Volgens Bornman word September se regte ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, geskend.

Bornman sê September het nooit die geleentheid gehad om haar geslag te verander nie en het ook nooit toegang gehad tot die nodige mediese hulp vir transgendermense nie. Daarom word sy as ’n man beskou en in ’n tronk vir mans aangehou.

“Terwyl sy in die tronk is, het lede van korrektiewe dienste haar verhoed om haar geslagsvoorkeur uit te leef deur middel van haar haarstyl, kleredrag en deur ’n bietjie grimering te dra,” sê Bornman. September is ook die slagoffer van verbale mishandeling en aanranding en sy is een keer in ’n afsonderlike tronksel geplaas omdat sy haar geslagsvoorkeur probeer uitleef het.

Van haar persoonlike besittings is weggevat en sy is gedwing om haar gevlegte hare af te sny.

Volgens Bornman is dít juis ’n kenmerk van haar vroulikheid.

Maar omdat September nooit die nodige mediese geslagsbehandeling gehad het nie, sal sy juis meer uitstaan en moontlik met geweld in ’n vrouetronk geteiken word.
Sanja Bornman, regsverteenwoordiger.

“Hierdie behandeling, in meer as een fasiliteit, het September getraumatiseer en het aansienlike skade aan haar geestesgesondheid veroorsaak. Sy het in Desember verlede jaar probeer om haarself om die lewe te bring.”

Bornman sê die eerste vraag is hoekom September nie na ’n vrouetronk gestuur is nie. Is dit tweedens nie gevaarlik vir haar om as ’n vrou in ’n manstronk aangehou te word nie?

“Maar omdat September nooit die nodige mediese geslagsbehandeling gehad het nie, sal sy juis meer uitstaan en moontlik met geweld in ’n vrouetronk geteiken word.”

Daar is nie afsonderlike tronke vir transgendermense nie, en kragtens tronkregulasies bestaan transgendermense nie. “Dit is onaanvaarbaar.”

Die respondente sê hulle het September aangeraai om as ’n man te leef vir haar eie veiligheid.

“Hulle het egter nie daarin geslaag om enige bewyse te gee dat bloot September se geslag van haar ’n groter risiko maak nie.”

Volgens Bornman gaan die saak oor die reg van mense op gelykheid en om met waardigheid behandel te word terwyl hulle in die sorg van die staat is.

In hofstukke voer September aan dat die inbreuk op haar regte haar verneder.

“Die manier waarop ek my geslag uitleef, is die enigste manier hoe ek myself kan uitleef. Dit dui op wie ek is,” lui September se hofstukke.

Die departement kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die saak word op 26 November in die gelykheidshof aangehoor.

Meer oor:  Man  |  Vrou  |  Gelykheidshof  |  Moordenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.