Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hofstryd woed oor chihuahuas

’n Pretoriase advokaat het al sowat R150 000 aan regskoste opgedok om gedeelde toesig oor die twee chihuahua-hondjies te hê waarmee sy vervreemde vrou by hul huis uitgetrek het.

Adv. Casper Badenhorst Foto: pretoriabar.co.za

Adv. Casper Badenhorst het aan Rapport gesê die hondjies, Bella (4) en Grietjie (3), is sy “kindertjies” en hy mis hulle baie.

Sy vervreemde vrou, Lu­cille, het in April verlede jaar met die hondjies uitgetrek.

Casper het ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria ingedien om Lucille aan min­agting van die hof skuldig te bevind omdat sy glo ’n vroeëre hofbevel verontagsaam het.

Waarnemende regter John Holland-Müter het egter die saak van die rol geskrap en bevind die saak is nie dringend nie.

‘Ek mis my kindertjies verskriklik.’

Casper het die hof gevra om Lucille opgeskorte tronkstraf te gee omdat sy nie twee bevele uitgevoer het wat sedert Februarie in die Pretoriase landdroshof teen haar uitgereik is nie.

Die landdros het beveel Casper se medebesit van die honde moet dadelik herstel word.

Lucille meen die mede-eienaarskap van die honde kan net herstel word as sy terugtrek na haar man se huis.

Casper sê egter in hofstukke sy hoef nie terug te trek nie, want hy het geen begeerte om met haar te versoen nie. Hy wil net hê die honde moet om die week by hom en Lucille bly.

Lucille BadenhorstFoto: Facebook

“Bella en Grietjie dra by tot my emosionele welstand. Die honde is gewoond en baie geheg aan my. Dit is bitter onregverdig en wreed om hulle eenvoudig uit my lewe te verwyder en ek uit hulle s’n.

“Die honde is intelligent en sensitief van aard en sal angstig raak as ek heeltemal uit hul lewe is.

“ ’n Hond se vermoë om emosioneel betrokke en geheg aan sy eienaar te raak, is die einste rede waarom mense honde aanhou. Daar is baie min, indien enige onderskeid tussen die trauma wat ’n kind sal ervaar weens weerhouding van ’n ouer en die trauma wat ’n hond ervaar wanneer dit van ’n liefdevolle mede-eienaar weggehou word.”

Hy sê die honde se lewensverwagting moet ook in ag geneem word. “Daar is geen waarborg dat die honde langer as die aanhoudende en kwaadwillige litigasie (tussen die egpaar) sal leef nie en dus kan die saak nie vertraag word nie.” Hy het aan Rapport gesê hy gaan die saak nie daar laat nie en het reeds ’n aansoek teen Lucille op die gewone hofrol ingedien om haar aan minagting van die hof skuldig te laat bevind.

Grietjie op adv. Casper Badenhorst se Twitter-blad.

“Dit was my inisiatief dat ons die hondjies kry. Ek het Bella gekoop en sy vir Grietjie.”

Hy sê hy het reeds vyf prokureurs, wat namens hom in die saak oor die honde opgetree het, in die pad gesteek, “almal prominente prokureurs in die dorp”.

“Hulle het my nie ernstig opgeneem nie. Mense lag vir my omdat ek ’n hofsaak het oor die honde.” Hy sê hy het reeds R150 000 aan prokureurs betaal.

“Ek kon die honde een naweek in September (2018) sien. Ek mis my kindertjies verskriklik.”

Arthur Channon, Casper Badenhorst se sesde prokureur, sê daar is nog nie ’n datum vir die volgende aansoek op die bestrede hofrol nie, “maar weens die emosionele skade wat daar voortdurend vir my kliënt veroorsaak word, vertrou ons dat dit voor die einde van die jaar sal wees”.

Lucille sê in hofstukke toe sy uit die huis getrek het, het Casper geen beswaar gehad dat sy die honde saamneem nie.

“Dit was gemeensaak dat dit my honde was.”

Sy het in September die eerste prokureursbrief ontvang wat gegaan het oor kontak met die honde. Om ’n “gunstige atmosfeer” te skep vir ’n skikking oor die saak, het sy ingestem dat hy hulle elke tweede Saterdag of Sondag van 08:30 tot 18:00 kan sien.

Sy sê toe hy die honde op 23 September by haar ma kom haal het soos hulle gereël het, het hy “onbehoorlik probeer om ons probleme met my ma te bespreek”. Die kontakreëling het daarna deur die mat geval.

Sy sê Casper het Bella in Februarie 2015 vir haar “as geskenk gekoop”. “Ek het die babahondjie uit die werpsel gekies en haar Bella genoem.”

Die egpaar se huwelik het toe begin skeefloop. “Rondom Junie 2017 het ek self ’n ander chihuahua gekoop as maat vir Bella en haar Grietjie genoem.”

Lucille sê sy minag nie ’n hofbevel nie, want “daar was en kan nooit herstel van mede-eienaarskap (van die honde) wees nie, omdat die applikant en ek nooit weer saam sal woon as man en vrou nie”.

Sy wil geen ooreenkoms met hom sluit nie, want dan moet sy haar woonadres teenoor hom bekend maak, sê sy.

Meer oor:  Honde  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.