Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hond byt neus af, vrou eis baie geld

Waarskuwing: Hierdie berig bevat grafiese foto's wat sommige lesers kan ontstel.

Vir die sóveelste keer daardie dag het ’n Pretoriase vrou haar gasheer se hond gevryf – toe spring die staffie en skeur ’n deel van haar neus af.

Mariëtte Odendaal in 2015.

Nou eis Mariëtte Odendaal R600 000 van Dawie van der Merwe, ’n elektrisiën van eMalahleni.

Dis nie net haar gesig wat vermink is nie, voer sy in haar skadevergoedingseis in die hooggeregshof in Middelburg in Mpumalanga aan. Sy het ook ’n persoonlikheidsverandering ondergaan.

Haar prokureur, Rianie Strijdom, het aan Rapport gesê Odendaal en haar man, Lehan, het op 9 Januarie 2016 by familie in eMalahleni gekuier.

Die egpaar is die middag saam met hul familie na die Van der Merwes se huis vir ’n braai.

Strijdom sê Odendaal “het haar hand uitgesteek en die hond gevryf, soos soveel keer daardie dag”.

Odendaal op 9 Januarie 2016, ’n dag nadat die hond ’n deel van haar neus afgebyt het.
Odendaal ses dae later.

“Die volgende oomblik het die hond opgespring, haar neus afgebyt, dit laat val en omgedraai en weggeloop.”

’n Deel van haar neus moes herbou word. Die hospitaal- en ander mediese koste gaan haar na verwagting nog R100 000 kos. Medisyne, psigiatriese behandeling en psigoterapie sal na raming ook R100 000 kos.

Volgens Odendaal se eisbesonderhede ly sy aan posttraumatiese stresversteuring en erge depressie.

In haar hofstukke word gesê as die hof bevind Van der Merwe was nie die eienaar van die hond nie, sal Odendaal aanvoer hy was nalatig omdat hy geweet het of moes weet die hond is gevaarlik en sal waarskynlik besoekers byt wat wettig op die erf kom. Sy voer aan Van der Merwe moes die nodige beheer oor die hond uitgeoefen het om te keer dat dit haar aanval.

Van der Merwe staan die eis teen.

Odendaal meer as ’n jaar later.

Sy prokureurs het die hof gevra om Odendaal se dagvaarding en eisbesonderhede tersyde te stel omdat dit volgens hulle gebrekkig en onreëlmatig is. Hulle het aangevoer die hofstukke is nie korrek onderteken deur haar regsverteenwoordigers nie.

Waarnemende regter Hein Brauckmann het op 2 Julie beveel dat Odendaal se eisbesonderhede teen 17 Julie korrek onderteken word.

Hy het in sy uitspraak daaroor gesê dit lyk of Van der Merwe weet wat die eis teen hom behels en wat die redes vir die eis is. Die blote (korrekte) ondertekening van die eisbesonderhede sal nie ’n nuwe skuldoorsaak teen hom tot gevolg hê nie.

As Odendaal se eisbesonderhede om dié rede tersyde gestel word sal haar eis verjaar (te oud raak om aangehoor te mag word). Sy sal Van der Merwe in daardie geval nie aanspreeklik kan hou nie.

Brauckmann het gesê Van der Merwe was verseker teen die risiko van ’n aanval deur die hond en is deur sy versekeraar verteenwoordig.

Van der Merwe se prokureurs het nie op navrae geantwoord nie.

Meer oor:  Middelburg  |  Hondaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.