Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hoof van honde-eenheid word glo geteiken

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat 'n foto wat sommige lesers kan ontstel.

Die labrador Quintin, wat lt.kol. Ivan Myer, hoof van die honde-eenheid van die polisie in Kaapstad, gered het. Foto: Verskaf
Netwerk24Foto: Verskaf

Die hoof van die honde-eenheid van die polisie in Kaapstad, lt.kol. Ivan Myer, het van sy kollegas voor die arbeidshof gedaag omdat hulle hom glo teiken en sy loopbaan skade probeer aandoen.

Dit kom nadat hy in Desember 2018 ’n labrador van Knysna, Quintin, gered het en opdragte van sy hoofde ignoreer het en daarna van wanbestuur aangekla is.

Myer, wat 39 jaar diens in die SAPD het, het Dinsdag ’n dringende aansoek in die arbeidshof in Kaapstad gebring vir ’n tussentydse bevel om te keer dat hy geteiken word nadat hy sy kollegas van dieremishandeling aangekla het. Hy het dit gedoen ingevolge die Wet op Beskermde Openbaarmaking, wat verseker dat die klaer nie bekend gemaak en geteiken kan word nie.

Die aansoek is teen lt.genl. Khombinkosi Jula, die voormalige provinsiale polisiekommissaris, lt.kol. M.J. Goliath en lt.kol. B.W.C. Moses gebring.

Die SAPD het tugstappe teen Myer ingestel en Myer het ’n aansoek by die hof ingedien om te keer dat die tugproses voortgaan alvorens die aansoek in die arbeidshof afgehandel word. Die tussentydse aansoek val binne dié hoofaansoek, om te keer dat hy verder geteiken word.

Myer het sedert Desember 2018, toe hy betrokke geraak het by die welsyn van Quintin, ’n stryd met die SAPD oor die versorging van die honde in die honde-eenhede.

Hy het nadat Quintin van Knysna na Kaapstad vir behandeling deur veeartse gebring is, aanbeveel dat hy nie teruggestuur word nie en dat hy medies ongeskik verklaar moet word. Sy aanbeveling het op dowe ore geval en Quintin is terug Knysna toe, net om later weer teruggestuur te word na die Kaap omdat sy versorging nie op standaard was nie, volgens die hofstukke.

Myer het ’n paar dae later die hond se mediese geskiedenis aan die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) oorhandig, sowel as aan die provinsiale polisiehoof, om ’n saak van dieremishandeling te ondersoek. Hy het spesifiek klem gelê op die nasionale opdragte van die SAPD oor die mishandeling van polisiehonde.

Hy het inligting ingevolge die Wet op Beskermde Openbaarmaking bekend gemaak, maar is toe glo geteiken oor wat hy gedoen het.

Die tugproses, wat in Julie moes plaasvind, is uitgestel en is veronderstel om later in Augustus voort te gaan.

Die tussentydse aansoek is ’n poging van Myer om homself te beskerm teen diskriminasie en om geteiken en ook dalk verplaas te word (as deel daarvan dat hy geteiken word).

Die SAPD sê die manier waarop hy die honde van diens onttrek het, is nie ingevolge polisiereëls gedoen nie en daarom het hulle tugstappe teen hom ingestel.

Hulle het Myer se aansoek teengestaan en aangevoer dit is nie dringend nie, omdat Myer volgens hulle baie tyd gehad het om die aansoek te bring.

Regter Hilary Rabkin-Naicker het uitspraak voorbehou.

Die beserings op Quintin se pote voor behandeling.
Netwerk24

Meer oor:  Lt.Kol. Ivan Myer  |  Kaapstad  |  Honde-Eenheid  |  Honde  |  Dieremishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.