Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hoon-familie verlig dat saak vorder
Jéan Vosloo en sy verloofde, Mari Hoon. Foto: Argief

Die familie van Mari Hoon (28), wat saam met haar verloofde, Jéan Vosloo (25), op 'n gasteplaas aan koolstofmonoksiedvergiftiging dood is, sê die eerste inhegtenisneming in die saak is ’n “ligpunt”.

Suné, Hoon se suster, sê dit voel uiteindelik of daar vordering is, maar die seer van hul verlies is nog net so erg soos byna ’n jaar gelede.

“Ons vat dit nog dag vir dag, maar dit is nog nie makliker nie. Die seer, hartseer en pyn laat dit voel asof dit gister gebeur het,” sê sy.

’n Vriend het die verloofde paartjie se lyke op 26 April verlede jaar in die stort van ’n gastehuis op die plaas Zuuranys, sowat 17 km buite Kareedouw, aangetref.

’n Toksikologie-verslag het in Februarie aan die lig gebring dat hulle aan koolstofmonoksiedvergiftiging dood is.

Ná dié uitslag het die Oos-Kaapse polisie die geregtelike doodsondersoek na twee sake van strafbare manslag verander.

Kevin Pretorius (47), die gasteplaaseienaar, is vandeesweek egter op twee aanklagte van moord in hegtenis geneem.

Ons vat dit nog dag vir dag, maar dit is nog nie makliker nie. Die seer, hartseer en pyn laat dit voel asof dit gister gebeur het.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat hy vroeër die dag in die landdroshof in Humansdorp verskyn het en daarna op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Hennie Bence, Pretorius se prokureur wat sy borgtogaansoek behartig het, sê hy het nog nie met sy kliënt oor die saak se meriete gekonsulteer nie, en dat hy nog wag op ’n afskrif van die dossier en dus nie kommentaar kan lewer nie.

Suné het voorheen gesê hulle vermoed dat ’n foutiewe gasgeiser moontlik tot die paartjie se dood kon gelei het.

Anelisa Ngcakani, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het by navraag oor die verandering van die aanklagte gesê die hof sal hoor dat “opset” betrokke was.

Dr. Llewelyn Curlewis, ’n strafregkenner van die Universiteit van Pretoria, meen die aanklagte van moord is die regte benadering en ook nie vreemd nie.

Volgens hom sal dit egter moeilik wees om ’n skuldigbevinding te verseker aangesien die staat sal moet bewys dat daar opset was.

“(Die staat) sal moet kan bewys die beskuldigde opsetlik die dood van daardie persoon of persone veroorsaak het, met ander woorde die bedoeling gevorm het om dit te doen.

“As die staat daarenteen kan bewys dat die (beskuldigde) nalatig was, kan die staat waarskynlik ’n skuldigbevinding aan strafbare manslag bewerkstellig as al die elemente teenwoordig is.”

Hulle skiet dus met ’n haelgeweer en hoop iets tref deur te begin met die swaarste moontlike aanklag en sal met ’n skuldigbevinding op ’n mindere aanklag tevrede wees. Dan het hulle hul werk behoorlik gedoen en sukses bereik.

Hy sê verder die klagstaat kan steeds gewysig word en dit is nie ’n uitgemaakte saak dat Pretorius op aanklagte van moord verhoor sal word nie.

Volgens hom het die staat ’n “algemene benadering” waarvolgens ’n beskuldigde van die ernstigste misdaad aangekla word, maar die staat later tevrede sal wees met ’n skuldigbevinding aan ’n mindere misdaad.

“Dít eerder as wat daar van die begin af vir ’n mindere misdaad soos strafbare manslag aangekla word en in die hofsaak is daar getuienis wat daarop dui dat dit eintlik ’n geval was waar opset ter sprake was en dit bo alle redelike twyfel bewys kon word. Maar dan kan hulle nie ’n skuldigbevinding vra vir moord nie, want hy is nooit daarvan aangekla nie.

“Hulle skiet dus met ’n haelgeweer en hoop iets tref deur te begin met die swaarste moontlike aanklag en sal met ’n skuldigbevinding op ’n mindere aanklag tevrede wees. Dan het hulle hul werk behoorlik gedoen en sukses bereik.”

Die hofsaak is tot 24 Mei uitgestel.

Meer oor:  Kevin Pretorius  |  Jéan Vosloo  |  Zuuranys  |  Mari Hoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.