Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Huiseienaar gevonnis wat inbreker in Bloem skiet

’n Sakeman van Bloemfontein wat ’n inbreker kort ná middernag noodlottig gewond het terwyl hy oor ’n hoë grensmuur gevlug het, is in die hooggeregshof in die Vrystaat tot twee jaar korrektiewe toesig gevonnis. Hy moet ook 384 uur gemeenskapsdiens verrig.

Peter Grivas
Peter Grivas

Peter Grivas (51) het voor waarnemende regter Marina Voges in ’n pleitooreenkoms met die staat skuld op aanklag van strafbare manslag beken. Voges het ook die vonnisooreenkoms bekragtig wat hy met die staat aangegaan het.

Hoewel die oorledene se naam blykbaar nie bo alle twyfel vasgestel kon word nie, blyk dit uit sy polisieprofiel dat hy ’n vorige veroordeling vir huisbraak het en verhoorafwagtend was op twee ander aanklagte van huisbraak toe hy in die vroeë oggendure van 2 Oktober 2019 doodgeskiet is.

Luidens die pleitverduideliking het Grivas besef hy het die perke van selfverdediging oorskry die nag toe hy die drie waarskuwingskote in die rigting van die muur afgevuur het. Hy het gedink die koeëls sou oor die man se kop trek.

Hy het gesien hoe die man net daarna vanaf die sypaadjie weggehardloop het. Die man se lyk, met ’n wond in die lae rug, is daarna sowat 800 m verder gekry. By hom was ’n sak wat in Grivas se vrou se motor was en oorringe wat in sy seun se motor was.

Luidens Grivas se pleitverduideliking het hy die nag wakker geword van geluide buite sy huis. Gewapen met sy pistool het hy en sy seun gaan ondersoek instel. Sy vrou het die paniekknoppie gedruk en die polisie gebel.

Die man het na iets agter sy rug gevat, wat Grivas gedink het ’n wapen is, en verby die voorkant van die huis gehardloop.

Naby die voorste heiningmuur het hy ’n man gehurk agter sy motor gesien. Hy het die pistool op die man gerig en hom beveel om plat te lê. Die man het na iets agter sy rug gevat, wat Grivas gedink het ’n wapen is, en verby die voorkant van die huis gehardloop.

Grivas het ’n waarskuwingskoot in die grond geskiet. Die man het ’n sak agter ’n potplant uitgehaal en Grivas, wat gedink het daar was ’n wapen in, het ’n tweede skoot in die grond geskiet.

Die man het in sy rigting beweeg en hy wou nog ’n skoot skiet, maar die pistool het geweier. Die man het by hom verbygehardloop na ’n groot struik langs die heiningmuur, met Grivas se seun agter hom aan.

Grivas het kort voor die voorval ’n knie-operasie ondergaan en was nie baie beweeglik nie.

Met sy seun aan die een kant van die struik en die man aan die ander kant, het Grivas nog drie skote in die donker geskiet. Hy moes die man getref het toe hy oor die muur gespring het, luidens die verduideliking.

Daaruit blyk dit ook dat daar binne twee maande ’n huisbraak en ’n rooftog in dié woonbuurt was en nog ’n rooftog vroeër die jaar. Daar is ook ’n paar maande tevore ingebreek by sy skoonma se huis, twee strate weg in Waverleyweg.

Vier familielede en ’n vriend van Grivas is in die verlede in gewelddadige misdaad dood. Dié nagtelike gebeure het hom laat dink hy gaan die volgende slagoffer wees.

Dat Grivas ware berou het oor wat hy gedoen het en dat hy sielkundige berading vir die trauma ontvang wat hy beleef het, is ook ter versagting aangevoer.

Adv. Ena Liebenberg het vir die staat opgetree en adv. Koenie Pieterse in opdrag van Adrian Saffy vir Grivas.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Sakeman  |  Vonnisoplegging  |  Inbreker  |  Skiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.