Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Huisvrou wen in hof; kry helfte van eks se annuïteit

’n Oos-Randse huisvrou wat reeds in 2007 uit die huis getrek het weens haar man se verneukery moet die helfte van sy lewensannuïteit kry, al is dit jare later eers uitgeneem. Hulle was binne gemeenskap van goedere getroud en die vrou het ná 22 jaar van getroude lewe die huis verlaat.

Hulle is in 2018 in die Kempton Park-streekhof geskei en dié hof het beveel dat sy al die voordele van die gemeenskaplike boedel ná 30 Junie 2007 verbeur omdat haar man gesê het sy het nie daarna tot die boedel bygedra nie. Trouens, hy het gesê sy het niks tot hul boedel bygedra van hul troue in 1985 tot 2007 nie, terwyl hy hul voertuie se paaiemente en die huisverband moes betaal.

Die vrou se tradisionele rol van huisvrou en ma moet nie onderskat word nie.

Toe hy in 2013 bedank het, het hy R500 000 van sy pensioen laat uitbetaal en die res herbelê in ’n lewensannuïteit by Sanlam. Weens die verbeurdverklaring kon die vrou net tot 30 Junie 2007 in die helfte van die boedel en die man se pensioen deel. Sy het tot die hooggeregshof in Johannesburg geappelleer en gesê in haar 22 jaar in die huis het sy die kruideniersware gekoop, vir die elektrisiteit en ander dienstegeld betaal, asook die kinders se skoolgeld.

Regter Leicester Adams het in die appèluitspraak gesê die paartjie het met leë hande by die huwelik ingestap en deur die jare bates in die boedel opgebou. Hy het verwys na ’n uitspraak waarin die appèlhof gesê het die tradisionele rol van die huisvrou, ma en tuisteskepper moet nie onderskat word omdat dit nie in geld gemeet kan word nie.

Adams het gesê: “Die ware rede (vir die skeiding) is sy wangedrag – hy het haar ondermyn deur buite-egtelike verhoudings. Dit het meegebring dat sy die huis verlaat het . . .”

Dis vanselfsprekend dat die vrou daarna nie tot die huishouding bygedra het nie, want toe moes sy na haarself omsien.

Adams het die verbeuringsbevel tersyde gestel en gesê die gesamentlike boedel moet gelyk verdeel word en dat sy geregtig is op 50% van sy lewensannuïteit tot op 7 Mei 2018 toe hulle geskei is.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het in Februarie ook in die bres getree vir ’n huisvrou wat ná 25 jaar geskei is.

Regter Sharon Chesiwe het bevind die vrou het as tuisteskepper omgesien na haar man en hul kinders. Die man het toegegee sy is ’n goeie ma en was ’n goeie vrou vir hom. Sy moet 50% van sy totale pensioenbelang kry, het Chesiwe bevind.

Appèlregter Fritz Brand het in 2004 in ’n rigtinggewende uitspraak bevind ’n maatskappybaas hoef nie R7,8 miljoen aan sy eksvrou te betaal nie, want sy het nie die tradisionele rol van huisvrou opgeneem nie. Trouens, sy was finansiële direkteur van sy maatskappy. Hy moes haar net R4,5 miljoen betaal, oftewel 40% van hul gemeenskaplike bates

Toe dié egpaar in die hooggeregshof geskei is, wou die vrou die helfte van haar en haar man se gekombineerde boedelwaarde hê. Dié hof het bevind dat sy R7,8 miljoen moes kry, maar haar man het daarna suksesvol geappelleer. Brand het gesê die tradisionele rol van huisvrou, ma en tuisteskepper moenie onderskat word nie, maar dat dit niks te doen het met die feite van dié saak nie. Dié vrou het nooit die tradisionele rol vervul nie. Haar groot bydrae was dat sy saam met haar man gewerk het.

Riëtte Oosthuizen, Gautengse familieregspraktisyn, sê: “In ons reg word ’n boedel verdeel of die aanwas bereken op die egskeidingsdatum; nie die datum dat jy die huis verlaat nie. As jy tydens jul vervreemding besef jou huwelik is tot niet, moet jy oorgaan tot die egskeidingsproses.

“Moenie vir jare aparte lewens lei en dink as jy die dag skei gaan alles net bereken en verdeel word van die datum wat julle uit mekaar is nie. So ’n besluit gaan jou duur te staan kom.”

Meer oor:  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.