Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Huiswerker kry yskas by Deacons se familie om dankie te sê
Sophie Mmako (51), wat vir die moorde op Lizette en Hettie Deacon van Polokwane aangekla word. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS

Die huiswerker van Polokwane wat weens die moorde op haar jare lange werkgewers in hegtenis geneem is, het die dag ná hul roudiens die familie gehelp om hul besittings op te pak.

Sophie Mmako (51) het selfs ’n yskas van die vermoorde Lizette Deacon (55) en haar bejaarde ma, Hettie (79), by die familie gekry om dankie te sê vir haar jare lange diens. Dit was voordat die familie bewus was dat sy glo betrokke is by die moorde. 

Mmako het die afgelope 24 jaar, sedert 1996 vir Hettie, gewerk.

Sy het Maandagoggend met haar arms styf voor haar bors gevou in die beskuldigdebank in die landdroshof in Polokwane gestaan. Lazarus Mahlo (41), haar kêrel, het langs haar gestaan, maar hulle het nie met mekaar gepraat nie. Mahlo het tot onlangs in een van die Deacons se Ocean Baskets gewerk.

Mmako het Maandag aan Netwerk24 in die hof gesê dit “gaan goed” met haar.

Dia van Staden, ’n jare lange vriendin van Lizette en Hettie, was Maandag in trane buite die hof. Sy ken Mmako al etlike jare.

“Ek kan dit nie glo nie. Toe sy my in die hof sien toe waai sy so ewe vir my,” het Van Staden gesê.

Van Staden het Mmako verlede Dinsdag by die roudiens vir die Deacons getroos toe sy bitterlik gehuil het. “Wat met hulle gebeur het, maak my hart baie seer,” het sy toe aan Netwerk24 gesê.

Lizette en Hettie is vroeg Donderdagaand 10 September in hul meenthuis in die Alpetra-kompleks in Welgelegen oorval, met messe gesteek en in die bagasieruimte van Lizette se wit Honda-luikrugvoertuig geboender. Hul lyke is ure later agter in die voertuig sowat 25 km buite Polokwane gekry.

Die lykskouings het bevind die amptelike oorsaak van dood is versmoring.

Lizette was die eienaar van die Ocean Basket-restaurante in die Savannah Mall en in Mall of the North. Hettie het haar met bestuurspligte gehelp. Albei vrouens was geliefd en bekend in Polokwane.

Ek kan dit nie glo nie. Dis verraad. Toe sy my in die hof sien toe waai sy so ewe vir my.

Ds. Dopper Erasmus, wat ’n goeie vriend van die Deacons was en hul roudiens gelei het, het Maandag gesê Mmako se beweerde betrokkenheid by die moorde, “is ’n groot stuk hartseer”.

Mmako het ook vir Erasmus en sy vrou, Rita, gewerk en op hul erf gewoon toe hulle nog in Dap Naudé-straat in Polokwane gewoon het. Mahlo het ook by Mmako op die erf kom kuier, het Erasmus gesê.

“Ons is geweldig geskok en probeer nog vir onsself uitpluis hoe so iets gebeur het,” het Erasmus gesê.

Mmako en Mahlo staan tereg op twee aanklagte van moord en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof van Limpopo, en Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het die hofverrigtinge bygewoon. Rakgoale het gesê sy gaan maatskaplike werkers na vriende van die Deacons stuur wat getraumatiseerd is ná hul moorde.

Lazarus Mahlo (41), wat vir die moorde op Lizette en Hettie Deacon van Polokwane aangekla word. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS

Mahlo is Vrydagoggend in Tembisa aan die Oos-Rand in hegtenis geneem deur polisielede wat gehelp is deur oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke. Mmako is ’n uur voor dit in Polokwane in hegtenis geneem.

Hulle twee medebeskuldigdes, Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), is Sondag 13 September in onderskeidelik Mookgophong en Polokwane in hegtenis geneem. Hulle is Zimbabwiërs.

Landdros Janine Ungerer het die saak tot Vrydag uitgestel wanneer al vier die beskuldigdes in die hof sal verskyn.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die polisie soek na nóg ’n Zimbabwiër wat die polisie met inligting oor die moorde kan help. Die man staan bekend as Owen Setsiba, maar gebruik ook die vanne Makutara en Mbedzi.

Enigiemand met inligting kan kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of sers. Phaladi Makola by 082 749 2233 bel.

Dia van Staden en haar vriendin, Lizette Deacon (55). Foto: VERSKAF
Lazarus Mahlo, ds. Dopper Erasmus en Sophie Mmako. Foto: VERSKAF
Owen Setsiba word deur die polisie gesoek weens die moorde op Lizette en Hettie Deacon. Foto: SAPD
Advanced Amid (30) en Casper Mudau (35), wat vir die moorde op Lizette en Hettie Deacon van Polokwane aangekla word. Foto: DEAAN VIVIER
Sophie Mmako (51) Dinsdag by die roudiens vir die vermoorde Lizette en Hettie Deacon van Polokwane. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS

Meer oor:  Sophie Mmako  |  Polokwane  |  Moord  |  Hof  |  Huiswerker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.