Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Hulle het vermoor en word net op die vingers getik’

“Hulle het drie kinders vermoor en word net op die vingers getik. Of beteken dié lewens niks?”

Só het ’n ontstoke Niklaas van der Ross (51) Donderdag gesê ná die vonnisoplegging van Embrose Thapelo Saul (35), Jean-rubeuh Holtzhauzen (23) en Lee-roy Pietersen (32) wat in ’n onwettige straatren in Bloemfontein drie tieners doodgery het.

Van links sit Lee-roy Pietersen, Embrose Thapelo Saul en Jean-rubeuh Holtzhauzen Donderdag in die beskuldigdebank.Foto: ALZANE NARRAIN

Landdros Johandi Gouws het Saul in die Bloemfonteinse landdroshof vir sy aandeel in die noodlottige ongeluk in Heidedal op die aand van 28 November 2015 op ’n aanklag van strafbare manslag drie jaar direkte tronkstraf opgelê en sy bestuurslisensie vir ses maande opgeskort.

Pietersen is op ’n aanklag van onbedagsame bestuur ’n boete van R10 000 of 60 maande tronkstraf opgelê, waarvan R5 000 of 30 dae tronkstraf in die geheel voorwaardelik vir 12 maande opgeskort is.

Gouws het Holtzhauzen op ’n aanklag dat hy aan ’n onwettige straatren deelgeneem het, ’n boete van R30 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, waarvan R20 000 of agt maande tronkstraf in die geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Van der Ross het gesê die straf is te lig vir die daad wat hulle gepleeg het. “Hulle het Elgeno Veldman (16), Bradwill Fortuin (15) en Napo Makwa-Ferreira (18) vermoor. Hulle verdien om lewenslank in die tronk te sit.”

Fortuin, sy suster se kleinkind, het in sy arms gesterf.

“Dit is so onregverdig,” het Van der Ross met rou emosie in sy stem gesê.

Niklaas van der Ross Donderdag buite die Bloemfonteinse landdroshof. Foto: ALZANE NARRAIN

Gouws het voor vonnisoplegging gesê vonnisoplegging is die moeilikste deel van ’n verhoor. “Aan die een kant sal ’n beskuldigde altyd voel die straf is te swaar. Aan die ander kant voel die oorledenes se naasbestaandes die vonnis is te lig.”

Sy het gesê vaders en moeders, biologies en andersins, het hul kinders verloor. “Dit is ’n pynlike verlies wat nooit sal genees nie. Elke verjaardag is ’n herinnering aan hul kinders wat hulle aan die dood afgestaan het.”

Kapt. Paseka Mojake was die ondersoekbeampte.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Strafbare Manslag  |  Straatren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.