Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Hulp’ ná besering laat hom verlam

‘Boeta, dit is nie so erg nie. Ons sal jou fix.”

IB Foster het verlede jaar ’n meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, al kan hy weens ’n besering nie self skryf nie. Foto: UP

Só het ’n noodhulpbeampte volgens ’n ooggetuie aan Izak (IB) Foster gesê waar hy beseer op ’n rugbyveld gelê het.

Maar Foster, wat as matriekleerling slot gespeel het vir die Hoërskool Lichtenburg se tweede span, het gewéét hier is groot fout.

En die klikgeluid wat hy gehoor het toe twee noodhulpbeamptes hom ondanks sy pleidooie sonder die regte toerusting van die veld dra, het hom toe die gebruik van sy arms, polsgewrigte en hande gekos.

In ’n hofsaak oor die ongeluk wat langer as tien jaar geduur het, het die hooggeregshof in Pretoria op 2 Julie bevind die Noordwes se onderwysdepartement en Kosh Sports and Trauma Services is 100% aanspreeklik vir Foster se beserings – juis weens die manier waarop hy van die rugbyveld gedra is.

Sy prokureur, Jean-Ray Pearton van die regsfirma Gildenhuys Malatji in Pretoria, sê Foster (nou 31) eis skadevergoeding van R42 miljoen. Die geding om die omvang van sy skade te bereken, lê nog voor.

Die rugbyligawedstryd was op 6 Mei 2006 by die Hoër Volkskool in Potchefstroom.

Pappa, ek sal nie volgende jaar kan vlieg nie.

Waarnemende regter Stephens Thobane het in sy uitspraak gesê Foster het in ’n plettervat geval en ’n hou teen sy nek gevoel.

Foster, wat van Ottosdal af kom, wou as kind bitter graag ’n vlieënier word. Pearton sê toe hy beseer op die veld gelê, het hy vir sy pa gesê: “Pappa, ek sal nie volgende jaar kan vlieg nie.”

Volgens Foster het hy met sy arms op sy bors op die veld gelê. Hy wou opstaan, maar sy onderlyf wou nie saamwerk nie. Hy het sy arms langs sy sye gesit.

Hy het die twee noodhulpbeamptes van Kosh hoor sê hulle het nie ’n “stretcher” of ’n “spine board” nie.

Hulle het ook vir hom gesê hy moenie “worry” nie.

Hy het hulle twee keer gevra om hom nie sonder ’n traumadraagbaar van die veld af te dra nie.

Die volgende oomblik het hulle na hom gestap. Hulle het hom met hul kaal hande begin oplig.

Toe vra hy ’n derde keer vir ’n draagbaar, “maar hulle het hom eenvoudig geïgnoreer”, het Thobane in die uitspraak gesê.

Soos hulle hom soos ’n stoeltjie gedra het, het hy die “klikgeluid” gehoor.

Hulle het hom op die grond neergesit en ’n sagte nekstut probeer omsit, maar dit was te pynlik vir hom. Hulle het dit toe afgehaal. Foster het toe al gesukkel om te praat en dit het gevoel of sy longe swaarkry.

’n Ambulans het opgedaag, Foster is na die Mediclinic Potchefstroom geneem en toe met ’n helikopter na die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria.

Hy is geopereer en het later rehabilitasie in ’n ander hospitaal ontvang.

Hy het die motoriese funksie van sy bene nooit herwin nie en is in ’n rolstoel.

Hoewel Foster nie kan skryf nie, het hy verlede jaar ’n meestersgraad met lof aan die Universiteit van Pretoria se sentrum vir omgewingstudies behaal. Hy studeer met aangepaste metodes, sê Pearton.

Thobane het bevind die gasheerskool vir die sportdag is daarvoor verantwoordelik om behoorlike mediese nooddienste en -toerusting te voorsien. Die skolesportreëls bepaal ’n sportaktiwiteit mag nie sonder ’n traumadraagbaar begin nie, veral by rugby.

Die regter het gesê Foster se lot is beslis toe hy daarsonder van die veld af gedra is.

Aanvanklik kon hy sy arms beweeg, maar later nie meer nie.

Thobane het bevind as die regte metode gebruik is, sou die tweede besering nie plaasgevind het nie.

Voorts het Thobane bevind Kosh Sports is gekontrakteer vir die wedstryd, terwyl die beampte aan wie dit behoort, nie die nodige kwalifikasies by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) gehad het nie en vir sowat tien jaar nie by die raad geregistreer was nie.

Meer oor:  Rugbybesering  |  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.