Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hy het sy vrou se lyk verbrand om ‘saak te laat verdwyn’
Maphaboli Godfrey Maphoble voor sy skuldigbevinding in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: ALZANE NARRAIN

’n Gewese ANC-raadslid van die Tokologo- plaaslike munisipaliteit in Winburg wat sy vrou se lyk eers weggesteek en toe op ’n vullishoop aan die brand gesteek het, is in die hooggeregshof in Bloemfontein op aanklagte van strafbare manslag en lykskending skuldig bevind.

Maphaboli Godfrey Maphoble (35) het Dinsdag voor waarnemende regter S. Chesiwe skuld beken dat sy optrede die aand van 27 November 2015 die dood van sy vrou, Thulani (26), veroorsaak het.

Hy het ook erken dat hy haar lyk ’n dag later buite Winburg geskend het deur dit op ’n vullishoop te verbrand.

Maphoble sê in sy pleitverduideliking hy en sy vrou, ’n junior interne ouditeur, was gelukkig getroud, maar het soms geldelike probleme gehad omdat sy oorbestee het.

Op 23 November het hy vir haar R14 000 gegee om hul verblyf vir ’n wegbreeknaweek by Hartbeespoort te betaal.

Drie dae later het hy ’n oproep van die vakansieoord ontvang dat hul bespreking gekanselleer is omdat geen betaling ontvang is nie.

Hy het haar gekonfronteer en sy het hul meenthuis in Anna Neethling-Pohl-straat in Langenhovenpark, Bloemfontein, verlaat.

Op 27 November het hy uitgevind Thulani het tien paar skoolskoene wat hy vir minder bevoorregte kinders gekoop het in ruil vir geld aan die winkel probeer teruggee.

Maphoble sê hy was baie ontsteld en het haar weer in hul meenthuis gekonfronteer.

Ek het gehoop die optrede sou die aaklige saak laat verdwyn.

’n Bakleiery het ontstaan. Hy het haar gestamp. Sy het agteroor geval en haar kop het hard teen ’n muur gestamp.

Daarna het hy die huis verlaat.

Toe hy ’n rukkie later terugkeer, was sy dood.

“Ek was heeltemal geskok en verward en het besef ek het haar dood veroorsaak.”

Hy het daarna met haar lyk na Winburg gery om sy pa te vertel wat gebeur het, maar sy pa was nie daar nie. Daarna het hy die lyk in sy ouers se motorhuis weggesteek.

Sy pa was die volgende oggend steeds nie tuis nie en hy het Thulani se lyk op die vullishoop buite die dorp verbrand.

“Ek het gehoop die optrede sou die aaklige saak laat verdwyn.”

Hy sê hy het berou vir wat hy gedoen het en vra die hof om sy verskoning te aanvaar.

Maphoble se vonnisoplegging is tot Maart uitgestel.

Adv. Sophie Giorgi kla aan.

Adv. Johann Nel tree in opdrag van Johny Fixane van Fixane-prokureurs vir Maphoble op.

Meer oor:  Moord  |  Dood  |  Anc  |  Winburg  |  Bloemfontein  |  Strafbare Manslag  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.