Hoe sal ’n prokureur hom nou kan help? Hy was mos nie daar toe dit gebeur het nie, het ’n man in die streekhof in Bloemfontein gesê toe hy gevra is of hy regshulp in sy moordverhoor nodig het.

Patrick Mafereka Foto: Mike van Rooyen
Patrick Mafereka (42) van Botshabelo het Vrydag gesê hy sal sy eie saak in die hof kom stel. Hy word aangekla van ’n moord wat byna tien jaar gelede in Bloemfontein gepleeg is.
Toe streeklanddros Johannes Moeng hom daarop wys dat ’n minimum tronkstraf van 15 jaar sy voorland kan wees as hy skuldig bevind word, het Mafereka geantwoord dat hy nie bekommerd is oor 15 jaar nie.
“Ek het mos reeds gesê ek het dit gedoen.”
Adv. Tumi Namola het op ’n vraag van Moeng gesê dat Mafereka vir ’n kort waarneming gestuur is en die bevinding is dat hy verhoor kan word.
Die aanklag spruit blykbaar uit ’n bakleiery waarin Mafereka ’n man daarvan beskuldig het dat hy sy goed gesteel het. Hy het dié man glo met ’n yster geslaan.
Die oorledene het tussenbeide getree en wou glo keer, waarna Mafereka hom glo met ’n mes gesteek het.
Die staat gaan aanvoer dat hy die oorledene opgetel het nadat hy op die grond neergeval het en hom weer gesteek het.
Hoewel die staat grusame foto’s van die bebloede oorledene het, kon sy identiteit nie vasgestel word nie. Niemand weet ook wat van die man geword het wat glo met die yster bygedam is nie.
Mafereka is in aanhouding en het sy reg op borgtog geweier. Hy moet weer later vandeesmaand in ’n ander streekhof verskyn.