Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ietermago was erg uitgeteer, hoor hof

’n Jong ietermago-mannetjie was so verhonger toe hy verlede jaar gedurende ’n polisie-lokval gered is, dat die bene in sy borskas en die senings duidelik sigbaar was.

Die erg verhongerde ietermago-mannetjie is half-opgekrul in die verdagte se motor se bagasieruim gevind. Foto: Verskaf

“Hy het 9,8 kg geweeg en was erg ondervoed en ondergewig en moes vir meer as 12 dae in aanhouding gewees het,” het prof. Ray Jansen van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) Woensdag in die landdroshof in Pretoria-Noord getuig.

Jansen is ook die voorsitter van die African Pangolin Working Group, ’n lid van die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se ietermago-spesialisgroep en het verskeie kwalifikasies in dierkunde.

Hy was deel van ’n polisie-operasie waarin drie Zimbabwiërs, Wiriranai Tasiyana Hoko, Frank Pfute en Khumbulani Mpofu, op 9 Oktober verlede jaar in Montana, Pretoria, in hegtenis geneem is.

Die drie is vroeër skuldig bevind op aanklagte dat hulle in die besit van ’n bedreigde spesie was en onwettig in Suid-Afrika ingekom en hier aangebly het.

Die verdagtes het aangekom in ’n ligblou Hyundai-voertuig, hulself voorgestel en die ietermago in die bagasieruim aan die tussenganger gewys.

Jansen het Woensdag gesê hy is op 7 Oktober 2019 deur sers. Morné Kemp van die Cullinan-polisie se veediefstaleenheid en eenheid vir bedreigde spesies gekontak oor ’n persoon wat ’n ietermago, ’n hoogs bedreigde spesie, aan ’n lid van die publiek wou verkoop.

Daar is ’n “ontmoeting” vir die volgende dag in Bronkhorstspruit gereël, maar die “operasie” het platgeval omdat die verdagte nie die dier saamgebring het nie.

Die verdagte het later weer die tussenganger/lid van die publiek gebel en dié keer gereël om naby Midrand te ontmoet. Weer het die verdagte sonder die ietermago opgedaag.

Op 9 Oktober het die tussenganger ’n WhatsApp-video ontvang wat wys dat die dier nog lewe en ’n “ontmoeting” is gereël by die Kolonnade Retail Park.

“Die verdagtes het aangekom in ’n ligblou Hyundai-voertuig, hulself voorgestel en die ietermago in die bagasieruim aan die tussenganger gewys,” het Jansen aangevoer.

Die tussenganger het vir Jansen gebel met die woorde dat die dier geïdentifiseer is en “ek moet die geld bring”.

Twee van die “ietermago-verkopers” word gedurende die polisie-operasie verlede jaar in hegtenis geneem. Die blou motor, waarin die ietermago in die bagasieruim versteek was, is langs hulle. Foto: Verskaf

Dit was die teken vir Kemp en sy kollegas om toe te slaan.

Die ietermago, wat vermoedelik in Zimbabwe gevang en na Suid-Afrika gesmokkel is, het half-opgekrul in die verste hoek van die bagasieruim gelê.

Jansen het hom ondersoek.

“Hy het vreeslik gewig verloor. Sy borsbene en senings was duidelik sigbaar,” het die professor getuig.

Die dier is na ’n wildlewe-veeartsenypraktyk geneem waar hy meer as ’n maand lank behandel moes word.

Adv. Zola Sotoa, die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, het hierna ter strafversagting betoog dat die beskuldigdes skuld beken het en die hof vra vir genade en om “geregtigheid met deernis en menslikheid toe te pas”.

Sotoa het bygevoeg dat die hof in ag moet neem dat mense “ ’n geneigdheid het om te swig voor versoekings”.

Die saak is uitgestel tot Augustus vir vonnisoplegging.

Meer oor:  Ietermago
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.