Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Inperking: Regulasies van alle kante beveg

Die kabinet het Donderdag aangekondig dat die regering gaan appelleer teen regter Norman Davis se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria dat die inperkingsregulasies van vlak 3 en 4 ongrondwetlik en ongeldig is.

Dié regulasies bly van krag hangende die uitslag van die appèl, maar in minstens 19 ander hofsake en nuwe dreigende sake word verskeie inperkingsregulasies skerp bevraagteken.

Beslissings teen die regering

Regter J.W. Louw het Woensdag, ook in die hooggeregshof in Pretoria, beslis dat mense wat weens die Covid-19-virussiekte in isolasie moet wees, kan kies waar hulle dit wil doen.

Dieselfde hof het Dinsdag ’n aansoek van die organisasie Sakeliga toegestaan, wat die regulasies ongeldig verklaar waarvolgens klein en informele handelaars (onder vlak 4) verplig was om sakelisensies en handelspermitte van hul plaaslike munisipaliteite te bekom.

In Mei is ’n beslissing ná die dood van Collins Khosa tydens die inperking teen die veiligheidsmagte se optrede gemaak. Khosa (40) is op Goeie Vrydag (10 April) in Alexandra, Johannesburg dood nadat weermaglede hom glo aangerand het.

Regter Hans Fabricius het in die hooggeregshof in Pretoria onder meer gelas dat ’n nuwe klagteowerheid gestig word waar die publiek magsmisbruike deur die polisie en weermag tydens die inperking kan aanmeld. Hy het ook gelas dat ’n nuwe gedragskode vir wetstoepassers opgestel word.

Fabricius het in sy uitspraak gesê die inperking stel nie behoorlike riglyne oor hoe die publiek en veiligheidsmagte moet optree of hoe inperkingsmaatreëls afgedwing moet word nie.

Die DA en die nieregeringsorganisasie 1 000 Women Trust het in Mei ’n tussentydse hofbevel teen Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, se beoogde verbod op die verspreiding van kos deur groepe buite die staat bekom.

Regter Robert Henney het in die hooggeregshof in Kaapstad gelas dat nóg die departement van maatskaplike ontwikkeling nóg die polisie die verspreiding van kos kan verbied. Die volle saak word op 19 Junie aangehoor.

Beslissings teen die aansoekers

In April het regter Jody Kollapen AfriForum en Solidariteit se dringende aansoek oor ras as kriteria vir hulp aan die toerismebedryf van die hand gewys. Die aansoekers was gekant teen die departement van toerisme se voorskrif oor swart ekonomiese bemagtiging vir ondernemings wat geld uit die Covid-19-hulpfonds wil hê.

Volgens Kollapen is die departement se puntestelsel, wat volgens bemagtigingswetgewing gebruik word, buigsaam en skep dit nie ’n onoorkombare versperring vir wit eienaars van ondernemings nie. Bemagtiging tel net 20 uit die 100 punte waarvolgens hulp beoordeel word.

AfriForum het hom intussen op die VN se hoëkommissaris vir menseregte beroep om ondersoek na die “onverdedigbare en irrasionele skending van burgerlike vryhede in Suid-Afrika” onder die inperkingsmaatreëls in te stel.

Verlede week het regter Lee Bozalek in die hooggeregshof in Kaapstad ’n aansoek van die hand gewys om die bevelsraad te dwing om haarkappers tydens die inperking te laat werk. Haarkappers sal steeds op vlak 3 gesluit bly.

Regulasies bly verander

In sommige gevalle het die bevelsraad regulasies verander toe met regstappe gedreig is.

Beperkings op e-handel is in Mei verslap nadat die burgerregtegroep DearSA met regstappe gedreig het. Die groep het in ’n verklaring gesê hy het die regstappe laat vaar nadat daar op 14 Mei aan sy versoekskrif gehoor gegee is.

Nog twee organisasies – die Tebeila Institute of Leadership, Education, Governance and Training en die African Institute for Human Rights and Constitutional Litigation – het in April regstreeks by die konstitusionele hof in Johannesburg aansoek gedoen dat babaklere en -produkte wat tydens die vlak 5-inperking verbied is, weer verkoop mag word.

Dié aansoek is later geskrap nadat Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, in April nuwe regulasies afgekondig het, wat toelaat dat klere van 1 Mei af vir babas tot op 36 maande wel in winkels verkoop mag word.

Solidariteit se Helpende Hand het ook gedreig met regsaksie toe die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling vroeër die Cradle of Hope-kosprojek opdrag gegee het om sy werksaamhede te staak. Die departement het bes gegee.

Skole

Verskeie organisasies, onder meer Solidariteit en die Menseregtekommissie (MRK), dreig met hofstappe oor die heropening van skole. Solidariteit het Donderdag in ’n verklaring gesê hy het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, se departement versoek om duidelike regulasies te verskaf oor die opening van onafhanklike en private kleuterskole, anders word ’n dringende hofaansoek volgende week ingedien.

Volgens die MRK is Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se huidige regulasies diskriminerend teenoor skole wat nie aan die maatreëls vir sifting, sanitasie en die handhawing van ’n gesonde afstand voldoen nie.

Die Educators Union of SA wil ook ’n stokkie steek voor die departement van basiese onderwys se planne om leerlinge gou te laat terug keer skool toe. Die vakbond sê hy gaan die regering daaroor dagvaar en het reeds sy dokumente by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Waar daar ’n rokie trek . . .

Twee hofsake oor die verbod op die handel in tabakprodukte onder die staat van inperking dien eersdaags voor die hof. Die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) het reeds geslaag in sy onderhandelings met die regering om die uitvoer van sigarette onder vlak 4 toe te laat. Fita wil nou hê die hof moet regulasie 27 ingevolge die Wet op Rampbestuur hersien en tersyde stel sodat alle tabakprodukte ook plaaslik verkoop kan word. Die saak sal op 9 en 10 Junie in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Maandag het die land se grootste tabakmaatskappy British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) ’n soortgelyke aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad teen Dlamini-Zuma, Ramaphosa en die bevelsraad gebring. Die saak word na verwagting later in Junie aangehoor.

Ander sake 

Die DA se aansoek teen die regering se gebruik van ras, geslag en gestremdheid as kriteria om te bepaal wie vir Covid-19-hulp kwalifiseer, word volgende week in die konstitusionele hof aangehoor.

AfriForum het Donderdag ’n nuwe hofaansoek in die hooggeregshof in Pretoria oor staatskwarantyn gebring. Volgens die burgerregteorganisasie behoort gerepatrieerde burgers ook die keuse te hê om die voorgeskrewe kwarantyn van 14 dae op ’n plek van hul keuse deur te bring. Volgens AfriForum het Woensdag se hofbevel net voorsiening gemaak vir mense wat reeds in Suid-Afrika is wat in self-isolasie moet bly.

Solidariteit dreig met regstappe teen die Werkloosheidsversekeringsfonds weens betalings aan werkloses wat nie betyds gemaak word tydens die pandemie nie.

Meer oor:  Collins Khosa  |  Regter Norman Davis  |  Koronavirus  |  Regulasies  |  Hofsake  |  Pandemie  |  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.