Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Coligny-2 skrik oplaas wakker uit nagmerrie nadat getuie onder eed lieg oor sonneblom-moord
‘Is ons werklik vry?’

‘Dit voel steeds onwerklik. Dit voel die hele tyd asof iets nog moet gebeur – asof een of ander nuwe ding met ’n draai gaan kom, soos dit nog die hele tyd gebeur het.”

Pieter Doorewaard en sy gesin. Sy suster, Mariska (37), sy pa, Gert (65), en sy ma, Marelie (62), is almal uit hul velle van blydskap. Foto: Deon Raath

So sê die 30-jarige Pieter Doorewaard Saterdag oor die blye nuus dat hy en sy vriend Phillip Schutte se appèl teen hul skuldigbevinding aan die moord van die 16-jarige Matlhomola Moshoeu suksesvol was.

Moshoeu is op 20 April 2017 dood nadat Schutte en Doore­waard hom gevang het nadat hy sonneblomme in die lande van hul werkgewer, Pieter Karsten, gesteel het. Die twee het nog altyd volgehou dat hulle Moshoeu agterop ’n bakkie gelaai het om hom na die polisiestasie op die dorp te neem en dat hy tydens die rit van die bakkie afgespring het.

Die Coligny-twee, soos hulle bekend geword het, is destyds skuldig bevind aan moord op grond van die getuienis van ’n enkele getuie, Bonakele Pakisi, wat getuig het dat hy nie net gesien het hoe Moshoeu herhaaldelik van die bakkie gegooi is nie, maar ook aangevoer het dat drie mans – onder wie Doorewaard en Schutte – hóm ook aangerand en op hom geskiet het toe hulle besef dat hy gesien het wat gebeur het.

In ’n uitspraak van 66 bladsye het drie appèlregters – Aubrey Ledwaba, Mahube Molemela en Visvanathan Ponnan – nou Pakisi se getuienis aan flarde geskiet weens al die onwaarskynlikhede en die feit dat hy herhaalde keer sy weergawe van wat dié dag gebeur het, verander het.

* LEES: Rapport sê: Karakter-moord op Coligny-twee was beplan

Nou, drie jaar en sewe maande ná die tragiese dood van Moshoeu, is Doorewaard en Schutte uiteindelik in staat om aan te gaan met hul lewe.

Phillip Schutte (36) sê hy voel verlig, maar steeds onseker en sy nuutgevonde vryheid het nog nie ingesink nie. Foto: Elizabeth Sejake

Net soos sy vriend het die 36-jarige Schutte ook Saterdag gesukkel om sy gevoel van algehele verligting onder woorde te bring.

“Verlig, goed. Ek voel half onseker. Dit het nog nie ingesink nie,” het hy gesê waar Rapport hom op die plaas van sy ouers, Albert (69) en Louise (65), naby Coligny opgespoor het.

Schutte is in Maart 2019 tot 23 jaar tronkstraf gevonnis en Doorewaard vir 18 jaar nadat hulle in Oktober 2018 op aanklagte van onder meer moord, menseroof, intimidasie en die rig van ’n vuurwapen skuldig bevind is.

Doorewaard sê: “Ek onthou hoe Phillip daardie dag vir my gesê het hy gaan sy seuntjie eers weer kan vashou wanneer die kind eendag 30 jaar oud is. Ek is nou 30, dis verskriklik.”

Uiteindelik het hulle elk sowat 13 maande in die tronk deurgebring – ’n ervaring wat albei van hulle, ironies genoeg, beskryf as nie so erg soos hulle verwag het nie.

“Op die ou einde . . . het ons goed ingepas – in die tronk is almal mos regskenners en onskuldig,” verduidelik Doorewaard met ’n verleë laggie.

Oor die dae ná Moshoeu se dood sê Doorewaard: “Ek was die hele naweek bekommerd, maar toe ons teen Maandag niks van die polisie hoor nie, het ek gedink alles gaan oukei wees.”

Hy het daardie Maandag ’n vrag bone na Setlagole (sowat 150 km wes van Coligny) geneem.

Rapport se hoofberig op 20 Januarie 2019.

“Toe hoor ek daar is moeilikheid in die dorp. Ons het eers gehoor dis net skoolkinders wat betoog, maar toe hoor ek die mense is besig om geboue te plunder en te brand.”

Hoewel hul regsadvies was om die omgewing vir eers te verlaat, kon die twee dit nie “met ’n oop gemoed” doen nie.

“Ons het besef solank ons niks doen nie gaan die betogers nie ophou nie, so ons het ter wille van ons dorp onsself aan die polisie oorhandig.”

Dit was die begin van ’n nagmerrie waaruit hulle eers Vrydag finaal wakkergeskrik het.

Nadat regter Ronald Hendricks aanvanklik verlof om appèl teen hul skuldigbevinding geweier het, moes die twee hulle tot die appèlhof in Bloemfontein wend vir spesiale verlof om so te doen. Eers daarná kon hulle vir borgtog aansoek doen en is op 15 November verlede jaar vrygelaat en kon weer inval op die plaas van Schutte se oom, Karsten, waar albei gewerk het.

“Ons is op Vrydag 15 November vrygelaat en was daardie Maandag weer terug by die werk.”

Karsten lag: “Ek het hulle nie afgegee nie, hulle was vir meer as 13 maande op onbetaalde verlof.”

Doorewaard sê hy vang homself die heel tyd dat hy na 2018 as “verlede jaar” verwys.

“2019 het nie vir ons twee bestaan nie. Ons lewens het ná 2018 vir ’n jaar opgehou.”

In Januarie verlede jaar het Rapport berig oor ’n bandopname waarin Pakisi na bewering teenoor ’n plaaslike geloofsleier erken dat hy in die hof gelieg het. “Dit was die draaipunt. Daardie storie van julle oor Pakisi destyds was die draaipunt. Dit was die eerste keer wat ons gevoel het daar is hoop,” sê Karsten.

Ingelize (36), Schutte se vrou, sê hulle sien uit na ’n nuutgevonde vryheid, want Schutte sowel as Doorewaard moes steeds – volgens hul borgtogvoorwaardes – elke week drie keer by die polisiekantoor op Ventersdorp aanmeld.

Hulle was Vrydag, kort voordat hulle die blye tyding ontvang het, vir die laaste keer daar.

“Pleks dat ons ’n paar uur gewag het, ons sou brandstof gespaar het,” grinnik Doorewaard droogweg.

Die uitspraak kom vier dae voor Schutte se verjaardag en net weke voor sy ma, Louise, se 66ste verjaardag op 12 Desember.

“Dit was ’n groot present,” sê Louise.

“Toe Ingelize my bel met die boodskap het ek nie geweet of ek wil lag of huil of spring of sit nie. Dit was die beste nuus ooit.”

Ingelize sê sy het nooit vir hul kinders – twee seuns van nege en vyf en ’n dogter van sewe – gesê hul pa is in die tronk nie.

“Hoe verduidelik jy vir jou kinders Pappa moet gaan sit, maar hy het niks verkeerd gedoen nie?”

Daarom het sy vir hulle gesê hy werk op ’n ver plek en kan nie terugkom nie. Die mense na aan hulle het ook die storie stil gehou ter wille van die kinders.

Schutte praat nie maklik oor die rol wat Pakisi in hul skuldigbevinding gespeel het nie.

“Ek het nie ’n wrok teen hom nie. Ek is nie eens kwaad vir hom nie. As ek hom nooit weer sien nie sal dit my nie pla nie. Ek het baie tyd gehad om te wonder wat hy daaruit probeer put het, maar ja.”

Doorewaard is ewe filosofies: “Almal in die dorp ken hom. Almal weet hy is deurmekaar."

Die drie appèlregters het egter nie doekies omgedraai oor wat húlle dink van Pakisi se getuienis nie. Ook die verhoorregter, die vervolgingsgesag en die polisie se speurwerk het deurgeloop. Hulle sê hoewel dit nie ongehoord is om iemand skuldig te bevind op grond van die weergawe van ’n enkele getuie nie, daardie getuie se weergawe in so ’n geval ekstra versigtig oorweeg moet word.

Van die aantygings wat Pakisi gemaak het wat nooit ordentlik getoets is nie sluit in:

* Drie mans het aan die aanranding deelgeneem waarvan een op ’n vierwielmotorfiets was;

  •  * Daar is verskeie skote afgevuur. Geen patroondoppies of wapens is ooit gevind of geïdentifiseer nie;
  •  * Moshoeu het deur sy mond, ore en neus gebloei terwyl hy agter op die bakkie gelê het. Geen bloedspatsels of tekens van bloed is ooit op die bakkie gevind nie;
  •  * Pakisi is gedwing om die seun se bloed met sy trui af te vee. Die trui is nooit as bewysstuk ingedien nie.

     * Die mans het Pakisi in ’n plaasdam gedwing, hom geforseer om rum te drink, vir kilometers aaneen te hardloop en om sy eie braaksel te eet nadat hy opgegooi het. Selfoonstate toon egter dat die beskuldigdes nooit op die plekke was waar Pakisi beweer het hulle was nie.

    Dit was egter veral appèlregter Visvanathan Ponnan wat ingeklim het onder die polisie, die aanklaer en ook Hendricks se hantering van die saak. Ponnan skryf: “Omtrent elke faset van (Pakisi) se getuienis weerstaan nie deeglike ondersoek nie.

    “Nietemin was regter Hendricks ‘tevrede dat die getuienis van mnr. Pakisi eerlik, waar en betroubaar was en aanvaar moet word’. Selfs ’n oppervlakkige kyk na die getuienis van mnr. Pakisi toon dat hierdie aanspraak nie ondersteun kan word nie.”

    Alhoewel al drie die appèlregters gemeen het dat die skuldigbevinding aan moord tersyde gestel moet word, het een van hulle, Molemela, gemeen Doorewaard, as die bestuurder van die bakkie, is wel skuldig aan strafbare manslag omdat hy moes voorsien het dat Moshoeu van ’n oop bakkie kon val teen die spoed wat hy gery het op ’n ongelyke grondpad. Dié mening is nie deur haar kollegas gedeel nie.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.