Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Issie se ‘brutale moord’ rede vir lang tronkstraf

“Jack” Banele Sihlali het vir Issie Dippenaar (58), die einste persoon wat vir meer as agt jaar net goed vir hom was, “brutaal en gewelddadig” vermoor.

Issie Dippenaar

Dit was een van die redes dat regter Rean Strydom die beskuldigde Dinsdag in die rondgaande hooggeregshof in Breyten, Mpumalanga, tot lewenslange tronkstraf gevonnis het.

“Sy is verwurg, wat ’n verskriklike dood moes gewees het. Die misdaad is gepleeg vir finansiële gewin. Die beskuldigde het dieselfde aand ná die moord geld met die oorledene se kaart en PIN gaan trek.

“Die versagtende omstandighede (in die saak) weeg by verre te lig om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf,” het die regter gesê.

Sihlali is vroeër die dag skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer op Kenneth Mashego, die tuinier wat in sy plek aangestel is, Dippenaar se moord en die roof van haar bankkaart, en vier aanklagte van bedrog waar hy haar bankkaart gebruik het.

Strydom het tydens sy uitspraak bevind dat Sihlali op 10 November 2016 iets “onwettig” moes beplan het toe Mashego hom in Dippenaar se motorhuis in Ermelo betrap het.

Banele Sihlali koes vir die media terwyl hy vanaf die aanhoudingsel na die beskuldigdebank stap. Foto: Hanti Otto

Sihlali het die nuwe werknemer aangeval en twee keer met ’n skroewedraaier gesteek voordat hy gevlug het.

“Die enigste afleiding is dat die beskuldigde ongelukkig was dat Mashego sy werk gevat het,” het Strydom gesê.

Op 21 November daardie jaar is Dippenaar aangeval.

“Die beskuldigde moes haar verras en oorrompel het. Hy het haar vasgebind en haar bankkaart se PIN bekom en haar verwurg.”

Strydom het bygevoeg dat Sihlali vermoedelik Dippenaar se lyk van die toneel wou verwyder, daarom het hy haar liggaam en haar foon in haar voertuig gesit.

Hy is egter verras deur die buurman, wat kom ondersoek instel het nadat Dippenaar se ma hom gebel het.

Issie Dippenaar se afgedankte tuinier en moordenaar, Banele Sihlali, tydens ’n vorige hofverskyning.

Die buurman, Abraham Jacobus Kruger, het getuig hy het van buite af ’n persoon in Dippenaar se huis gesien. Hy het kort daarna haar liggaam, vasgebind maar nog warm, in haar motor se kattebak gevind.

Die aanvaller het intussen by die huis se agterdeur uitgevlug.

Sihlali is die volgende dag gevang nadat hy van die polisie probeer weghardloop het en geskiet is.

Dippenaar se bankkaart en kontant is in sy besit gekry.

Strydom het, naas die lewenslange tronkstraf vir Dippenaar se moord, Sihlali tot ses jaar tronkstraf gevonnis op die aanranding met die opset om ernstig te beseer van Mashego, 15 jaar vir die roof met verswarende omstandighede van Dippenaar se bankkaart, en vier jaar tronkstraf op elk van die vier aanklagte van bedrog.

Hy het gelas dat die vonnisse samelopend met die lewenslange tronkstraf uitgedien word.

Issie is gewaarsku

Toe Issie Dippenaar se man destyds siek geword het voor sy afsterwe, het haar tuinier, Banele Sihlali, gehelp om hom te dra.

Hy het selfs by geleentheid “Nasionale Braaidag” saam met die familie deurgebring ná haar pa se dood, het Amoré Walters (30), Dippenaar se dogter, Dinsdag voor Sihlali se vonnisoplegging getuig.

Walters het gesê Dippenaar was die bestuurder van die kinderhuis in Ermelo. Sihlali het vir jare as tuinier by haar gewerk en Dippenaar het ook vir hom werk by die kinderhuis gekry.

Die dogter het verwys na ’n voorval in 2015 toe Sihlali onregmatig haar ma se Audi gevat en daarmee gaan ry het.

“My ma het my voorheen vertel dat sy (Sihlali se) werksetiek agteruitgaan en dat personeel (van die kinderhuis) haar gewaarsku het. Toe die voorval met die Audi gebeur, het sy besef sy kan hom nie meer vertrou nie. Ek dink my ma se vertroue was gebreek,” het Walters getuig.

Sihlali is afgedank en Kenneth Mashego is as tuinier in sy plek aangestel.

Op ’n vraag van adv. David Pudikabekwa, staatsaanklaer, hoe Dippenaar se moord die familie geraak het, het Walters gesê: “As kind het ek altyd vir my ma gesê ek wil eendag net soos sy wees. Haar karakter en integriteit was vlekkeloos. Sy sou enigiets vir ons doen.”

Betoë

* Leona Fraser, vir Banele Sihlali, het ter strafversagting betoog dat die 29-jarige beskuldigde in Ermelo grootgeword het. Sy ouers is uitmekaar toe hy tien jaar oud was.

Hoewel hy gr. 10 voltooi het, het hy later skool verlaat omdat hy nie verder die mas kon opkom nie.

Dit was toe wat Issie Dippenaar en haar pastoorman, André, hom werk as ’n tuinier gegee het totdat hy in 2015 afgedank is.

Hy het ’n sesjarige kind en is reeds ’n jaar en ses maande in aanhouding. Sihlali is ’n eerste oortreder.

“Duidelik het daar iets met die beskuldigde gebeur ná sy afdanking. Voor dit was hy lojaal en betroubaar en hulpvaardig. Dit lyk asof, toe hy afgedank is, iets verskrikliks verkeerd gegaan het. Dit moes ’n verwerping-saak vir die beskuldigde geraak het,” het Fraser gesê.

* Adv. David Pudikabekwa, staatsaanklaer, het gesê Sihlali was veronderstel om Dippenaar te beskerm “nadat sy hom soos ’n seun ingeneem het”.

Hy het betoog dat die beskuldigde haar reg op lewe ontneem het, iets wat nie net haar familie nie, maar die hele Ermelo-gemeenskap raak.

“Die oorledene het by ’n kinderhuis gewerk en omgesien na kinders van alle rasse wat in nood was. Tog toon die beskuldigde geen berou nie.”


Meer oor:  Issie Dippenaar  |  Tuinier  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.